Jaxon Taylor (11 maande) is Saterdag langer as twee uur in die motor gelos terwyl die kwik tot 26 °C gestyg het.

Die seun se gesin – onder andere sy grootouers, tante en nog ’n kleinkind – het sowat drieuur die middag van die kerk in Georgia af by die huis gekom, berig CNN.

Niemand het by die huis in Chickamauga onthou om Jaxon uit die sportnutsvoertuig te haal nie.

Die gesin het eers die verskriklike fout besef toe die baba se ma, Mandie Hendershot, wat snags as verpleegster werk, halfses die aand wakker word en na haar seun vra.

“Dit blyk daar was ander goed in hul gedagtes,” het Steve Wilson, die sheriff van die distrik Walker, aan CNN gesê.

“Daar was ’n gebrek aan kommunikasie tussen die drie volwassenes. Hulle het aangeneem een van die ander het die kind ingebring en hom neergelê. Hulle het nie gekommunikeer wie die kind sou gaan haal nie.”

Jaxon se ma het kardiopulmonêre resussitasie probeer toepas en die baba is gehaas na die hospitaal waar sy werk. Maar hy is daar dood verklaar.

’n Lykskouing word uitgevoer en dit blyk dat die dood nie opsetlik was nie. Tog word ’n ondersoek gedoen en aanklagte kan moontlik ingedien word.

Bronne: CNN, mirror.co.uk

Lees ook hier meer oor waarom jy nie jou kind alleen in 'n motor moet los nie.