[caption id="attachment_152074" align="alignnone" width="600"]Klein Caylum (Foto's: Facebook) Klein Caylum (Foto's: Facebook)[/caption]

Caylum Willemse, wat met die seldsame toestande trageo-esofageale fistels en esofageale atresie gebore is, het ná die operasie vir die eerste keer in sy lewe ’n oop lugweg. Die toestande het veroorsaak dat sy lugwegkraakbeen versag is en meegee.

Selfs ná verskeie vroeëre operasies het Caylum soms steeds ophou asemhaal. Dr. Russel Jennings van ’n kinderhospitaal in Boston, Amerika, het ’n prosedure ontwikkel wat kinders met die toestande makliker help asemhaal.

Die 11 maande oue Caylum  is byna drie weke gelede in Boston geopereer. In die maande voor die Willemses se vertrek is R7 miljoen daarvoor ingesamel.

Caylum is vier ná die operasie uit die hospitaal ontslaan, maar hy en sy ouers is steeds in Amerika.

Adriaan Gerber, ’n verteenwoordiger van die Caylum Willemse-stigting, sê dit gaan goed met die outjie. Dié organisasie sonder winsbejag is op die been gebring om geld vir die operasie in Boston in te samel. Caylum het egter ’n respiratoriese sinsitiale virus opgedoen, wat beteken daar moet vyf weke gewag word met die volgende operasie omdat hy nie nou narkose kan ontvang nie. ’n Laringeale klep moet nog reggemaak word. “Dit is te moeilik om nou na die laringeale keep te kyk,” het Samantha op die Facebookblad Caylum Willemse geskryf.

Sy skryf hulle het geen ander opsie as om in Amerika te bly sodat bepaal kan word of Caylum die klep het en of hulle kan opereer nie. Die dokter het in die teater iets gesien wat gelyk het na ’n keep, maar dit sal eers bevestig kan word wanneer die seun weer onder narkose is.

Samantha skryf dis is moeilik vir hulle omdat hulle nie Kersfees by hul dogter, Charlotte (9), kan wees nie, maar hulle moet nou doen wat die beste is vir Caylum. Hulle het aanvaar hulle sou betyds terug wees vir Kersfees, maar nou is dit te laat.

“Ons het aan elke moontlike manier gedink om haar hier te kry, maar besef ons sal Kersfees moet vier wanneer ons terug in Suid-Afrika is.”