Dis normaal om angstig te voel oor jou eerste vlug saam met jou baba. Daar is geen waterdigte plan wat ’n volmaakte reis waarborg nie, maar ons gee jou ’n paar wenke en truuks wat dit makliker kan maak. En onthou om te ontspan; dit kan ’n opwindende avontuur vir julle albei wees.

Voorbereidings voor die vlug: 

Bespreek vroegtydig

’n Vroegtydige bespreking sal jou kans op ’n beter sitplek verbeter. Laat weet die lugdiens dat jy met ’n baba reis sodat hulle die nodige voorsorg kan tref. Die sitplekke in die laatste ry voor ’n afskorting is die beste wanneer jy met ’n baba reis, sê Elana Pretorius, ’n oudlugwaardin en ma van twee. “Dié ruimte het baie spasie en beenruimte.”

Vra die lugdiens dié vrae: 

Is daar afslag vir kinders onder twee en hoeveel is dit?

Kan jy sitplekke in die laaste ry voor ’n afskorting kry?

Het hulle bababedjies/drawiegies in dié rye beskikbaar?

Word ma’s en families ’n pas toegelaat sodat hulle vooraf aan boord mag kom?

Mag jy jou baba op jou skoot vashou?

Sal ’n babasitplek as aanboordbagasie tel?

Mag jy ’n stootwaentjie aan boord bring?

Is daar babakos beskikbaar?

Ligter = makliker 

Trek lig aan en pak ook so. Sorg dat jou en jou jou baba se klere vir die vlug gemaklik en moeiteloos is. Ligter bagasie sal ook die stres verlig van verskeie sakke en ’n baba te moet hanteer. Behalwe vir maklik beweging kan minder sakke ook die kans verminder dat jy jou bagasie verloor.

Aanmelding:

Dra jou baba

As jy die baba om jou lyf vasbind, sal jou hande vry wees om byvoorbeeld jou tasse met wiele te trek, ’n babasitplek te dra of die nodige dokumentasie uit te haal wanneer jy aanmeld.

Benut geriewe vir ma’s en babas 

Sommige lughawens het geriewe vir ma’s en babas om die aanmelding ’n bietjie te vergemaklik. Kyk uit hiervoor en benut die voordele soos om toue te vermy en voor ander passasiers aan boord te gaan.

Op die vliegtuig:

Bababedjies

“Sommige lugdienste het bababedjies in die laaste ry voor ’n afskorting; ma’s kan dit gebruik om doeke om te ruil en sodat die baba tydens die vlug kan slaap,” sê Elana.

Voorkom geblokte ore 

Die verandering in kajuitdruk kan ongemak veroorsaak en ’n baba se sensitiewe ore irriteer. “Gebruik pediatriese neusdruppels soos Iliadin 20 minute voor julle opstyg. Borsvoed hulle tydens opstyging en landing of laat hulle aan hul fopspeen suig; dit sal hulle ore help oophou,” sê Elana.

Vat dit rustig

Elana dink die gewoonte van ouers om verskoning te vra aan medepassasiers vir hul babas wat moontlik gaan huil, is onnodig. Sy stel voor dat jy jou nie te veel oor die ander passasiers en jou baba se gedrag bekommer nie. “Jy het betaal vir jou sitplek en babas is babas; daar is baie min wat jy aan dié situasie kan doen.”

-Koketso Mashika

Ekstra bronne: http://www.parents.com, http://www.babycenter.com, http://torispelling.com