Junior Cox-Noon is nie net ’n bekende internetgesiggie nie. Op straat stop verbygangers om na sy haredos te staar. Vir ’n baba van nege weke oud is dié kapsel ongewoon.

Junior van Brighton, Engeland het internetgebruikers aan die gons gehad nadat sy ma, Chelsea Noon (32), foto’s van hom met die Britse dagblad The Mirror gedeel het.

Die ma van drie het glad nie verwag Junior se hare gaan só groei nie. “Met sy geboorte was dit taamlik dik, maar almal het gesê dit sal ophou groei en dat die meeste sal uitval,” sê Chelsea. Maar nou val niks uit nie. “Hy het niks verloor nie; daar is nie hare in sy bedjie nie, nie in sy stoeltjie of stootwaentjie nie. Dit hou letterlik net aan groei,” sê sy. “En dit groei nie af nie -- dit staan regop.”

Haar uitstappies winkel toe het nou aansienlik tydrowender geraak. Sy kon gewoonlik haar inkopies binne 40 minute doen, maar nou neem dit haar twee uur. Almal kyk twee keer as hulle haar jongste sien en wil altyd meer weet.

Maar die voormalige haarkapster het nie enige planne om Junior se hare binnekort te knip nie. “Ek wil dit beslis nie knip nie; ek wil sien hoe lank dit gaan uitgroei,” vertel sy.

[caption id="attachment_139838" align="alignnone" width="618"]Foto: Pan Media/ Mirrorpix Foto: Pan Media/ Mirrorpix[/caption]

Chelsea blaas Junior se hare met ’n haardroër droog, want dit neem te lank om natuurlik droog te word. Sy weet ook nie waar haar seun se hare vandaan kom nie, want nie een van haar ouer seuns, Mitchell (4) en Preston (6), se hare kom naby dié van Junior s’n nie. Nietemin, die ouer boeties is gaande oor hul boetie se hare en noem hom “bababeer”, sê sy.

Chelsea sê haar harige jongste voltooi nou hul gesin en sy beplan nie om nog kinders te hê nie. Die sooibrand tydens haar swangerskap was moeilik, sê sy. Miskien lê daar tog ’n bietjie waarheid in die bygeloof dat hoe meer sooibrand ’n swanger vrou ervaar, hoe meer hare die baba gaan hê.

Bronne: usmagazine.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk