Lily Groesbeck se toestand word as stabiel, dog kritiek bestempel. Sy word in ’n hospitaal in Salt Lake City behandel. Haar ma, Lynn Groesbeck (25), is dood aangetref in die motor.

“Omstandighede in ag geneem gaan dit besonder goed met Lily. Die dokters het tot dusver baie hoop vir haar,” het Lily se tante, Jill Sanderson, aan die plaaslike KSL-TV-stasie gesê. Polisie-luitenant Matt Johnson het gesê ’n hengelaar het die motor Saterdagmiddag ongeveer 12:30 op sy dak in die Spanish Fork-rivier, sowat 80 kilometer suid van Salt Lake City, gevind. Gedurende die nag het temperature tot naby vriespunt gedaal - terwyl Lily in nog die motor vasgekeer was. Toe sy deur reddingspanne gevind is, het sy onderstebo bó die water gehang wat deur die motor gevloei het, het Johnston aan die koerant Desert News gesê. Haar ma is dood agter die stuurwiel gevind

Ondersoekbeamptes vermoed dat die ongeluk Vrydagaand omstreeks 10:30 plaasgevind het. ’n Nabygeleë inwoner het glo ongeveer daardie tyd iets gehoor, maar kon niks vreemd vind toe hy die omgewing gaan fynkam het nie.

Volgens ondersoekbeamptes het die motor ’n sement-keermuur getref, geswenk en in die rivier beland. Die polisie is nie seker hoekom motor die pad in die eerste plek verlaat het nie. Familielede het aan die polisie gesê Lynn Groesbeck was op pad huis toe die ongeluk gebeur het.

Drie polisiebeamptes en vier brandweermanne wat tydens die reddingspoging die rivier binnegegaan het, is uit die hospitaal ontslaan nadat hulle behandeling moes kry vir hipotermie.

- Sapa