Margaret Boemer en haar man was in die wolke toe hulle hoor sy verwag ’n tweeling.

Die paartjie van Texas het dié goeie nuus gekry net ’n paar maande nadat hulle die teleurstelling van ’n miskraam beleef het. Maar toe tref nog teenspoed hulle: Een van die tweeling sterf op ses weke.

Ná ’n ondersoek op 16 weke het die dokters nog verpletterende nuus vir Margaret en haar man gehad: Die oorblywende babadogter het sakrokoksigeale teratoom – ’n gewas aan die basis van die baba se stuitjiebeen.

Die seldsame gewas beïnvloed bloedvloei; dit en die baba het albei geveg vir ’n kans om te groei, verduidelik Darrell Cass, mededirekteur van die Texas Children’s Foetal Centre en medeprofessor by Baylor College of Medicine in Amerika.

“In sommige gevalle wen die gewas. Die hart kan nie byhou nie, hartversaking kom voor en die baba sterf.”

Margaret sê: “Op 23 weke het die gewas Lynlee se hart begin aantas en hartversaking veroorsaak, so ons moes kies of ons die gewas gaan toelaat om haar liggaam oor te neem en of ons haar ’n kans gaan gee om te leef.”

Haar dokter was veral bekommerd oor die grootte van die gewas – dit was amper so groot soos die fetus. “Sy het gevoel daar is ’n sterk moontlikheid dat Lynlee nie die volle swangerskap sou oorleef nie.”

[caption id="attachment_143251" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Darrell en sy kollega Oluyinka Olutoye het sewe jaar gelede ’n suksesvolle operasie op ’n fetus uitgevoer en in Lynlee se geval belanggestel. Hulle en ’n span van 20 medici het die gewas tydens ’n uiters gevaarlike operasie probeer verwyder.

Soos gevrees het komplikasies ingetree. Lynlee se hart het in ’n stadium ophou klop en sy moes ook ’n bloedoortapping kry.

“Hierdie babas is sterwend,” sê Oluyinka. “Jy het ’n kind wat reeds siek is en die operasie kan haar sieker maak.” Nadat hulle sowat 90 persent van die gewas verwyder het, het dokters die baba terug in die baarmoeder geplaas.

Die operasie het vyf uur geduur.

En dit was ’n sukses: Die babadogtertjie het aanhou groei in haar ma se baarmoeder. “Haar hart het sterker geraak toe dit nie meer so hard hoef te werk en deur hierdie groot gewas moes pomp nie,” sê Oluyinka.

Toe Margaret op 6 Junie op 36 weke begin kraam, het sy ’n keisersnee ondergaan.

“Dit was baie opwindend om te sien hoe Lynlee huilend en skoppend gebore word,” sê Oluyinka. “Tydens die operasie was haar been skaars so groot soos my vinger. Hulle groei so baie in so ’n kort tydjie. Jy kan eintlik sê sy is twee keer gebore.”

[caption id="attachment_143252" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Lynlee, wie se tweede naam Hope is, het op die ouderdom van agt dae nog ’n operasie ondergaan om die res van die gewas te verwyder. Sy word binnekort vyf maande oud en “behaal al haar mylpale”.

Volgens haar trotse ma giggel sy maklik en geniet sy dit om saam met haar ouer susters te wees.

“Dit was oorweldigend hoe baie aandag haar storie gekry het, maar ons is baie dankbaar,” sê Margaret. “Toe ons die eerste keer die lang naam (van haar siekte) hoor, was ons bang en het ons nie geweet wat dit was nie. Toe het ons nog nooit daarvan gehoor nie. Ek is bly dit kry aandag sodat ander by wie dit gediagnoseer word kan weet hulle is nie alleen nie.”

Bronne: cnn.com, washingtonpost.com, foxnews.com