Lara van Vuuren is op 26 weke op 30 Oktober 2016 gebore, saam met haar twee sussies Julia en Lily. Lily is egter op 31 Oktober oorlede en Julia op 3 Januarie 2017.

Lara se ma, Jean-Mari van Vuuren, het die week ’n beroep op mense gedoen om vir haar laaste oorlewende dogtertjie van die drieling te bid.

Dié inwoners van Langeberg Ridge in die noorde van Kaapstad het ’n Facebookgroep begin sodat vriende en familie saam kan bid dat Lara sal oorleef, berig die gemeenskapskoerant TygerBurger.

Jean-Mari en haar man Divan het reeds twee kinders en was verras toe hulle verlede jaar in Junie uitvind dat sy weer swanger is. Die verrassing was nog groter toe hulle later uitvind dat sy ’n drieling verwag.

Al drie babatjies is gebore met groot gate in hul harte. Die toestand staan bekend as patent ductus arteriosus (PDA) en dra by tot spysverteringsprobleme en hartversaking, berig TygerBurger.

“Lara het almal se gebede nodig om sterk genoeg te raak sodat sy 'n hartoperasie kan ondergaan wat lewensnoodsaaklik is vir haar,” lui ’n inskrywing op die Facebookgroep Bid vir Lara.

“As gevolg van die hart PDA wat so groot is, tel sy nie vinnig genoeg gewig op nie. Dr. Susan Vosloo, die hartspesialis, kan eers die operasie op 1.8kg doen en Lara is nog myle ver van 1.8kg af. Die PDA veroorsaak groot komplikasies op die oomblik,” lui die inskrywing.

Jean-Mari het aan Huisgenoot gesê hulle is baie dankbaar vir al mense se gebede en ondersteuning. “Dit gaan maar op en af met Lara.”

Sy het Vrydag ’n foto van Lara gedeel toe sy 75 dae oud geword het.

“Lara is rustig vanoggend, maar haar magie is effens opgeblaas,” het ’n inskrywing Vrydagoggend op die Facebookblad gelui.