Kaapstad – Die dood van ’n 10 maande oue baba in Khayelitsha in Julie nadat hy rottegif geëet het, het weer die soeklig laat val op die kwessie dat mense versigtig met plaagmiddels in die huis moet omgaan, sê die Stad Kaapstad.

Die afdeling vir omgewingsgesondheid het die baba se dood ondersoek en tot die slotsom gekom dat die kind weens rottegif dood is.

“Die kind het in die huis gespeel toe hy in aanraking kom met die gifpille wat agter ’n kas op ’n bordjie geplaas is,” lui die verklaring.

Die gif is glo uitgesit vir die rotte, maar die inwoners het vergeet daarvan. Die baba se oppasser het hom na die plaaslike hospitaal gebring nadat hy begin opgooi het, maar hy is met sy aankoms dood verklaar.

“Dis ’n hartseer voorval en my gedagtes en gebede is met die familie,” het Siyabulela Mamkeli, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid, gesê.

“Dis belangrik dat die baba se dood nie vergeefs was nie; daarom doen ek ’n beroep op ouers om te leer uit hierdie tragedie en te verseker hulle doen alles moontlik om die risiko te verminder dat hul kinders aan hierdie plaagmiddels blootgestel word. Dis nie ’n alledaagse gebeurtenis nie, maar elke sterfte is een te veel.”

Bron: News24