’n Bakkie en ligte voertuig het na bewering teen mekaar gebots.

Luidens berigte het ER24-paramedici by hul aankoms op die toneel die twee voertuie in die linkerbaan van die pad aangetref.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê by nadere ondersoek het hulle gesien ’n vrou is in die voertuig vasgekeer. 

ER24-paramedici het die pasiënte behandel. Foto: ER24

“Die vrou het haar eenjarige seuntjie vasgehou. Paramedici het die seuntjie te hulp gesnel, maar geen teken van lewe gevind nie. Resissutasie en gevorderde lewensondersteuning is toegepas. Ongelukkig het die kind geen tekens van lewe getoon nie en hy is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Meiring is twee mans en die kind se ma ondersoek en vasgestel dat hulle verskeie beserings opgedoen het.

“Die pasiënte is vir hul beserings behandel en lewensondersteuning is verskaf voor hulle vir verdere behandeling na die Kalafong-hospitaal vervoer is.”

Die omstandighede rondom die botsing is nog onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.