Ons koninklike blogger vertel watter protokol en tradisies alles ’n rol gaan speel met die aankondiging van baba C se geboorte

Nou ja. Met Catherine wat laag lê en prins William wat nog volstoom aan die werk is om lewens te red, is daar nie veel meer wat ’n koninklike bekyker kan doen as om ongeduldig voor haar rekenaar rond te skuif of senuagtig met haar slimfoon in die hand deur Twitter te blaai nie.

Voor die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal is fotograwe en kameramanne se stoeltjies reeds opgestel. Al wat kort is ’n bobbie op die trappe van die Lindo-vleuel, dan wéét ons Catherine is opgeneem …

Daar word algemeen verwag dat Ma Middleton saam met Catherine by die hospitaal sal opdaag, aangesien William tans nog op Anglesey sy werk as reddingsvlieënier verrig. Catherine is óf by haar ouers in Berkshire óf in haar en William se kothuis in die Kensingtonpaleis-kompleks.

Tot verlede week het die hertogin nog ’n oog gehou oor die verbouings en restourasiewerk in hul nuwe tuiste in Kensingtonpaleis, dieselfde woonplek waar prinses Margaret, jongste suster van koningin Elizabeth, gewoon het.

Dat Catherine nou verkies om uit die kollig te bly, is seker geen verrassing nie, want geen hoogswanger vrou is lus om in die laaste dae van haar swangerskap vir ’n lens mooi te lyk nie. En met die Britse en wêreldpers reeds bewerig van opwinding oor die nuwe Britse prins of prinsessie, kan Catherine seker nie anders nie as om op haar senuwees te wees nie.

Die paleis probeer bitter hard om die tradisies wat gewoonlik saamgaan met die aankondiging van ’n koninklike geboorte te handhaaf. Die amptelike aankondiging sal by Buckingham-paleis gedoen word – ’n opvoubord met ’n vel papier daarom waarop besonderhede oor die baba verskyn, sal deur paleisamptenare na die hekke geneem word. (Die vel papier sal van die Lindo-vleuel af na die paleis aangery word!) Terselfdertyd sal die paleis ook op sosiale netwerke die blye nuus bekend maak.

En ons sal natuurlik almal moet wag tot koningin Elizabeth oor die geboorte ingelig is. Bronne wil dit hê dat indien Catherine in die nag kraam, die koningin nie wakker gemaak sal word nie! Goeiste, ek kan dit skaars glo, want enige oumagrootjie wil tog dadelik weet as daar ’n nuwe bondeltjie vreugde is. En daar is reeds berig dat William ’n spesiale selfoon ontvang het waarmee hy met ’n geruste hart die koningin met die blye tyding sal kan bel (geen kuberkraker sal dié sein kan binnedring nie).

En dan, natuurlik – asof daar teen daardie tyd nie al genoeg hoe-ha gemaak is nie – sal 41 saluutskote vanuit Hyde Park afgevuur word. Dit is immers ’n troonopvolger se geboorte wat aangekondig word! Koninklikes bly gewoonlik nie lank in die hospitaal ná die geboorte nie. So verwag prins William en Catherine op die trappe van die Lindo-vleuel ’n dag ná die geboorte. Dan sal dit tyd wees vir die Cambridges om hul kleinding te leer ken … WERD OM TE WEET

Hoekom word spesifiek 41 skote afgevuur? Normaalweg word 21 saluutskote met koninklike geleenthede afgevuur, maar in Hyde Park word 20 ekstra  bygevoeg omdat dit ’n koninklike park is. - Arlene Prinsloo Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. LEES OOK:

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!