Maar hokaai! Die gesegde lui mos nie verniet jy moet waak teen iets wat te goed klink om waar te wees nie.

Die adverteerder wou glo net R35 000 hê vir ’n 2004 VW Polo TDi-model omdat sy van haar “oorlede seun” se voertuig wou ontslae raak sodat sy nie meer daarin hoef vas te kyk nie.

Natasha vertel op Facebook haar ma het snuf in die neus gekry en gebid om meer duidelikheid oor die moontlike kopie te kry.

Intussen het die vermeende verkoper, wat haarself as Belinda Nagel voorgedoen het, haar identiteitsdokument, die motor se registrasievorms en alle relevante dokumentasie deurgestuur.

Maar toe Natasha-hulle die motor wou sien, is daar glo telkens wal gegooi. Eindelik is ooreengekom dat die motor op Woensdag 15 Februarie besigtig kon word.

Op Valentynsdag het Belinda hulle glo weer gebel en gesê nog iemand stel in die motor belang en dat dié bereid is om solank ’n deposito daarvoor neer te sit. ’n Deposito van R2 000 sou glo Natasha se ouers se kans verbeter om die voertuig te bekom. Daar is glo aangedring op ’n kontant- eerder as ’n elektroniese betaling.

Vir dié spesifieke kontanttransaksie kan ’n mens egter net R1 000 op ’n slag oorplaas; twee transaksies sou dus nodig wees.

Maar Natasha se ouers was steeds agterdogtig en het ene Belinda se dokumente toe van naderby bekyk.

Toe bars die bom: Die motor se registrasiedokumente is heel waarskynlik vervals.

Volgens Ettiene Nigel Spogter toon die enjinnommer op die verskafde dokumentasie die motor behoort aan iemand in Roodepoort. En dat dit nie as gesteel aangemeld is nie.

Daar is ook twyfel oor die geldigheid van die verskafte ID-nommer.

Volgens Belinda Robinson, wat ook op die betrokke blad kommentaar gelewer het, behoort die ID-nommer aan Yolanda le Grange.

Dit wil voorkom of verskeie mense onder soortgelyke slenters deurgeloop het waar deposito’s vereis word nog voor die item besigtig is.

Bedrieërs ontsien niks en niemand wanneer hulle jou van jou swaarverdiende geld probeer beroof nie.

Die aanloklike vals aanbiedings wissel van honde en huise tot motors, vakansieverblyf en selfs aandele.

Vertrou daardie stemmetjie wat jou waarsku, al wil jy dit soms eerder stilmaak.

As jy onseker is oor ’n advertensie op Gumtree, kan jy ’n e-pos stuur na adchecker@gumtree.co.za of besoek help.gumtree.co.za.

Algemene wenke om jou teen slenters te beskerm:

1. Ignoreer e-posse, teksboodskappe of oproepe oor jou persoonlike sake, al klink dit amptelik.

2. Moenie klik op skakels en aanhangsels wat jy per e-pos ontvang nie. Volg eerder regstreeks op met iemand, die maatskappy of die bank wat jy wel ken sodat jy seker kan wees dis wel ’n outentieke e-pos.

3. Veral banke doen moeite om op hul webtuistes te waarsku teen moontlike bedrog of slenterstreke wat die ronde doen. Bring liewer nog ’n minuut op daardie webtuiste deur en maak seker jy weet waarteen jy gewaarsku word.

4. Internetslenters word blitsig ontwikkel; wees deurentyd op jou hoede.