Kyle Nurie (40), ’n spieshengelaar van Port Elizabeth, het vroeg vanoggend ’n noue ontkoming gehad toe hy dit met ’n 2 m lange skeurtandhaai moes uitspook vir die vis wat hy pas gevang het.

Netwerk24 berig Kyle is reeds met eerste daglig die see by die Humewoodstrand in die Baai in toe hy vier “mooi” mosselkrakers raaksien.

Met sy spiesgeweer skiet hy toe die “mooiste en grootste” vis en bind dit aan sy dryflyn vas.

Gretig om nog visse te vang, duik Kyle toe dieper, tot hy voel iets gebeur met sy mosselkraker.

“Van die bodem af het ek gesien iets spartel by my vis, en het boontoe geswem om te kyk wat gebeur,” vertel Kyle.

Daar sien Kyle toe ’n skeurtandhaai wat sy ontbytvis wou wegraap.

“Al wat ek gedink het, is dat ek nie so vroeg opgestaan het om my vis aan ’n haai af te staan nie.”

Met ’n gestamp en ’n stoot met sy geweer kon Kyle sy vis uit die kake van die haai bevry.

Die haai het die aftog geblaas, en Kyle is suksesvol met sy vroegoggendvangs terug huis toe, al het dit ’n paar happe weg.

Bron: Netwerk24

Lees ook op Netwerk24: