Jayde Sheldon Bailey (33) van Kabegapark is Donderdag in die Port Elizabethse streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir die besit en verspreiding van kinderpornografie.

Brig. Vishnu Naidoo het gesê die Suid-Afrikaanse polisiediens verwelkom sy gevangenisstraf. Dit is die eerste keer dat ’n beskuldigde gevangenisstraf opgelê word vir die verspreiding en besit van kinderpornografie.

Tot dusver is hulle gewoonlik ’n opgeskorte vonnis of ’n boete of albei opgelê. Bailey het destyds onder die skuilnaam James Bond 00711 kinderpornografie afgelaai, gekyk en versprei. Dit was glo bedoel vir sy eie seksuele bevrediging. Die eksplisiete beeldmateriaal sluit onder meer seksuele dade tussen babas en minderjariges in. Hy is op 16 Maart 2015 by sy ouma se huis in Westering in hegtenis geneem toe hy in besit betrap is van duisende foto’s en video’s wat kinderpornografie uitbeeld. Sy destydse meisie, wat nou sy vrou is, is ook in hegtenis geneem. “Ek het na ál jonger webtuistes beweeg. Ek het geweet dis verkeerd en dat ek hulp nodig het,” het hy in Februarie vanjaar getuig. Die beeldmateriaal het hom glo aanvanklik gewalg, “maar toe het dit my begin aantrek en mettertyd het ek daaraan verslaaf geraak.”

Bailey, die pa van 16 maande oue tweelingdogters, en sy vrou is na bewering deel van ’n wêreldwye kinderpornografiesindikaat wat beeldmateriaal versprei van die verkragting, marteling van en moord op babas, insluitend pasgebore babas.

Bailey het op 17 Februarie vanjaar getuig dat hy self nooit enige kind op ’n onaanvaarbare manier aangeraak het nie.

Tydens die vonnisoplegging Donderdag het landdros Johan Herselman vertel hoe ontstellend dit was om die grafiese materiaal te aanskou wat as bewysstukke gedien het. Sommige van die babas het selfs nog hul naelstring gehad.

Bailey is op borgtog vrygelaat en is 14 dae gegun om te appelleer. Die saak is tot 27 Maart uitgestel. Die saak teen sy vrou word op dieselfde dag hervat, maar in ’n ander hof.

Toe Bailey op 22 September 2016 in die hof verskyn, het adv. Jason Thysse, staatsaanklaer, die hof versoek om ook in ag te neem dat Bailey reeds vorige veroordelings teen hom het: twee weens aanranding en een weens huisbraak met die opset om te steel.