Dit lyk of die tuimeltrein Joker’s Jinx sy naam gestand doen. Die tuimeltrein by die Six Flags-temapark in die Amerikaanse deelstaat Maryland het gister sonder seremonie tot stilstand gekom; die passasiers is amper 23 m bo die grond gestrand.

Die brandweer het vyf uur lank gesukkel om die 24 passasiers te bevry, wat een-een in harnasse vasgemaak moes word voor hulle grond toe afgesak is. Terwyl hulle gewag het, het reddingswerkers kos, water en sonbrandroom opgestuur, berig ABC News, terwyl die temperatuur tot 29 °C bereik het.

“Net ’n verwronge verstand kan sulke kinkels uitdink,” lees Six Flags se webtuiste oor Joker’s Jinx, wat tot 97 km/h kan bereik en ’n “spaghetti-agtige” ontwerp het wat die baan “oor mekaar laat drapeer en stapel”.

“Dit was nie baie moeilik om die slagoffers kalm te hou nie,” het Owen Hardy, een van die brandbestryders, aan die Washington Post gesê. “Niemand was rasend nie en almal was oënskynlik in ’n redelik goeie bui. Ek dink hulle was net verlig om te sien ons kom tot hul redding.”

Die rit se gerekenariseerde veiligheidstelsel bring dit tot stilstand wanneer dit ’n fout optel, het beamptes van die park gesê.

“Terwyl ons nog nie seker is wat gebeur het nie, het die tuimeltrein opgetree soos wat dit moes,” het die park in ’n verklaring gesê.

“Die rit gaan gesluit bly tot die park ’n deeglike ondersoek afhandel en sowel die personeel en die rit se vervaardiger vasgestel het dit is weer veilig vir die openbaar.”

Kirstin Buick

Bronne: abcnews.go.com, washingtonpost.com