[caption id="attachment_120137" align="alignnone" width="600"]Riaan Manser saam sy verloofde, Vasti Geldenhuys. Foto: Facebook Riaan Manser saam sy verloofde, Vasti Geldenhuys. Foto: Facebook[/caption]

Riaan het gisteraand op Facebook bekend gemaak dat Vasti in die Hospitaal is na sy tydens die resies geval het.

“Sy het haar pelvis gekraak, sy sê sy’s okay en sal binnekort ontslaan word," het Riaan geskryf.

“Ek moet die Cape Epic klaarmaak. Vir ons.”

Dié uitmergelende agt dae lange fietsren wat oor 800 km strek, lok jaarliks sowat 1 200 beroeps- en ervare bergfietsryers.

“Dis vir ons ’n voorreg om aan die fietsren te kan deelneem,” het Riaan voor die resies begin het aan Huisgenoot gesê. “Vanjaar se inskrywings was in net sewe sekondes uitverkoop.”

Riaan en Vasti het in 2014 die media se aandag aangegryp toe hulle met ’n roeiboot van Marokko tot in New York geroei het, ’n afstand van sowat 10 000 km op die oop see. Riaan het ook in 2006 met sy fiets om Afrika gery – ’n gemiddeld van 90 km per dag.

Dit is Riaan en Vasti se tweede Cape Epic nadat hulle dit verlede jaar vir die eerste keer aangepak het.

Volgens hom is die Cape Epic in ’n kategorie van sy eie.

“ ’n Mens gaan neem nie deel aan die Cape Epic vir die pret daarvan nie. Jy moet hare op jou tande hê. Ons was verlede jaar die een dag amper 10 uur lank op ons fietse.

“Vyftig persent van jou mededingers is beroepsryers, die ander 40 persent is baie ernstige fietsryers en dan kry jy die 10 persent wat ons insluit, wat guts het en onsself vir die uitdaging moet staal.”

Die fietsren vereis dat elke span uit twee ryers bestaan. Riaan en Vasti neem vanjaar as verteenwoordigers van die buitelughandelsmerk Columbia deel.

“Ek dink ons vorm ’n goeie span,” sê Vasti. “Ons kom ál meer in die gewoonte om goed saam te doen wat ons uit ons gemaksone plaas. “Daar moet altyd goeie kommunikasie wees tydens so ’n taai ren en omdat ons saam bly en oefen, is ons die ideale spanmaats.”

Vasti en Riaan het vanjaar aangekondig hulle gaan ná ’n verhouding van 14 jaar afhaak. Hulle trou na verwagting in Mei vanjaar.

Volgens Chris Whitfield, woordvoerder van die Cape Epic, was daar tot nou twee ernstige beserings waar ryers hul sleutelbene gebreek het.

Chris het aan Huisgenoot gesê nog bekendes soos die voormalige Protea-krieketspeler Gary Kirsten en die voormalige Springbok-kaptein John Smit durf ook vanjaar die kwaai bulte en krom draaie van die Cape Epic aan.

Fase een, oor 108 km, is eergister voltooi.

So werk die Cape Epic:

  • ’n Span van twee fietsryers kan inskryf
  • Die volle agt dae van die ren moet voltooi word
  • Dit bestaan uit sewe fases wat almal afsnytye het.
  • Die onderskeie roetes vind op Tulbagh, Wellington, Stellenbosch en in Durbanville plaas.

– Jacques Myburgh

Lees ook op Huisgenoot.com:

Almal se gunsteling-‘prinses’ binnekort weer op die silwerdoek

Inge Lotz-moord spook elf jaar later nog

Oefening douvoordag hou jou viets

Wanneer Zephany reg is, is ek hier vir haar – Celeste Nurse

Wildkyk van agter jou lessenaar? Nou kan jy!