“Dit was by die Mandela-brug in die middestad hier in Johannesburg. Ons het heel voor by ’n verkeerslig stilgehou; dit was so sesuur die aand,” vertel Jeanine, wat haar Mercedes A-class bestuur het.

“Twee mans het langs ons kar kom staan: een aan my kant en een by Nadine. Die een het sy gesig teen my venster gedruk en gesê: ‘Lady if you move, I’ll kill you.’ Ek het net gemaak of ek hom nie hoor nie.”

Die volgende oomblik het die man langs Nadine sy hemp opgelig en ’n vuurwapen uit sy broek te voorskyn gebring. “Nadine het histeries geraak, want sy het gedink haar deur is oop. Sy het geskree ek moet net ry. Toe kyk ek kante toe, trap die petrol en ry oor die rooi verkeerslig. Gelukkig het ek kopgehou,” sê Jeanine.

Daar was voertuie agter hulle en toe mense besef wat gebeur, het hulle op hul toeters begin lê, vertel Jeanine. “Toe ons wegjaag, het die twee mans na sy kante van die pad geloop. Ek het yskoud geraak. Dit het gevoel asof ek in ’n nagmerrie is. Ek het groot geskrik en so gebewe dat ek skaars kon bestuur.

“Ek het gedink ek gaan nooit weer iemand sien nie. Gelukkig was my seuntjie nie by nie. ’n Mens dink altyd dit sal nie met jou gebeur nie.”

Jeanine het tuisgegaan by die Houlson-tweeling op Krugersdorp vir die verfilming van die rolprent. “Ek het gehuil toe ek met my ouers praat. Ons al drie was in trane. Maar toe het die Here my kalm gemaak.”

Die Houlsons het getwiet dat hulle ook groot geskrik het. “Maar ons is darem veilig, en dis al wat saak maak,” skryf hulle.

Jeanine se ma, Elmare, het geskryf, ook op Twitter: “En die drietjies was so opgewonde oor die Avenger shoot! Ons is net dankbaar my kind en haar vriendinnetjies is veilig! Dankie, Heer.”

Hoewel hulle baie uitgesien het na die geleentheid om ekstras te wees, het hulle besluit om nie verder te verfilm nie. “Ons moes tot Sondag verfilm, maar ek is nou te bang vir die middestad. Dis gevaarlik daar.”

Loren Pienaar