Avatar laat rekords spat

Fliekvlooie het tot nou die dag dalk van hulle geweet. Was sy nie die meisie wat verlede jaar gesig gewys het as Uhura in Star Trek nie? En hy is mos die ou wat Christian Bale se kollig in Terminator Salvation gesteel het – of is dit hy?

Maar noudat Avatar die silwerdoek soos ’n bliksemstraal getref het, is die name van die akteurs Sam Worthington (33) en Zoe Saldana (31) op almal se lippe en die fliekbase staan nou tou met die draaiboeke.

En met sy 3D-wetenskapsfiksie-baanbreker kraai James Cameron, oftewel Meneer Titanic, weer koning as die regisseur van die suksesvolste fliek tot nog toe, en Sam en Zoe ry die golf saam met hom.

Hierdie rolprent oor die 3 m lange blou wesens en hul bedreigde planeet het juis onlangs Titanic se rekord aan skerwe laat spat vir die fliek wat die meeste geld tot nog toe verdien het.

Avatar het reeds twee Golden Globes verower en ’n slagting word by die Oscars voorspel. Geen wonder die twee sterre – die tot onlangs onbekende Australiese akteur en die meisie van New York – is eensklaps die goue seun en meisie van Hollywood nie.

Sam het in Australië grootgeword. Op 19 het sy meisie ’n oudisie by ’n dramaskool gaan aflê wat al grotes soos Mel Gibson en Cate Blanchett opgelewer het, maar Sam, wat haar net gaan ondersteun het, kry toe plek, en nie sy nie.

In die volgende dekade het hy rolle in flieks en op televisie vertolk, en in 2004 selfs ’n toekenning losgeslaan.

Kort ná sy 30ste verjaardag het Sam hom vir oudisies ontbied. Die fliekbase wou ’n bekende hê, maar James het geglo in Sam. Danksy Avatar is hy nou so besig dat hy nie kan voorbly nie.

Nes Sam het Zoe ook al 10 jaar se toneelspel agter die rug, en sedert dit rugbaar geword het dat James haar aangekeer het, stroom die aanbiedings behoorlik in. Zoe se loopbaan het in 1999 met ’n rolletjie in ’n episode van die televisiereeks Law & Order afgeskop.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 4 Februarie.