As jy klaar ’n effense onrustigheid het oor al die stories wat jy hoor van Australië se wilde diereryk, moet jy liefs nie verder lees nie.

Nog ’n vreesaanjaende dierestorie het pas sy kop uitgesteek, die keer in Townsville in die noordooste van Queensland.

“Die eerste slang was 3 m lank en die tweede 2,4 m,” het hy aan CNN vertel.

“Die eerste kom uit ’n huis wat hulle besig is om op te knap. ’n Vakman het dit gekry. Ek was beslis verras dat dit in die toilet was,” het hy bygevoeg.

Elliot vertel dit was omtrent ’n gedoente om die slang uit die toilet te kry, want dit was stewig vasgedraai binne die toilet se pyp. Hy moes die hele toilet van die muur af wegskuif om dit uit te kry.

Toe hy ’n paar dae later weer ’n oproep kry dat iemand ’n slang in hul toilet gevind het, was Elliot vas oortuig dis ’n siek grap.

“Hierdie keer het ’n vrou my gebel en gesê (die slang) is in die toilet. Aanvanklik het ek gedink iemand skeer net die gek met my. Ek het nie gedink ek gaan twee in toilette sien nie. Die vrou was angstig dat dit uitgehaal word.”

Elliot glo die slange, albei niegiftige luislange, kom nie die huis binne deur die pype nie, maar deur ’n oop deur of venster.

Dit is op die oomblik baie droog in die gebied en Elliot dink dat dors die slange na die toilette dryf. “Hulle is nie giftig nie en word nie as gevaarlik beskou nie,” sê Elliot. “Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie, maar dit is dalk beter om hulle alleen te laat wanneer jy een teëkom.”

Bronne: CNN; ABC News