Dit is een van daardie stories wat jou vertroue in die mensdom ’n knou gee. ’n Paartjie wat met behulp van ’n surrogaatma ’n tweeling verwek, maar dan net die gesonde sussie huis toe neem en haar boetie met Downsindroom summier agterlaat.

Al klink dit dalk soos ’n nare storielyn uit ’n dramareeks, is dit die situasie wat tans in Thailand en Australië afspeel ná bewerings dat die ses maande oue babaseuntjie Gammy se ouers hom verlaat het.

The Independentberig ’n Paartjie van Perth in Australië het die Thaise vrou Pattharamon Janbua (21) gevra om hul surrogaat te wees, maar Pattharamom beweer die ouerpaar het ná hul tweeling se geboorte net die gesonde dogtertjie huis toe geneem en haar in Thailand met die seun gelos.

Die ses maande oue Gammy is met Downsindroom gebore, en het ook ’n aangebore hartsiekte en longinfeksie. Ten spyte hiervan het Pattharamon besluit om hom te hou en nie te laat aanneem nie, het sy aan die plaaslike media in Thailand gesê.

Die BBC berig die ouerpaar het haar gevra om die baba te laat aborteer toe hulle uitvind hy gaan met Downsindroom gebore word, maar het sy geweier vanweë haar Boeddhistiese geloof.

Die ouerpaar het aan Channel 9 in Australië gesê die bewerings is vals, maar die surrogaatma sê die pa was in die hospitaal en het net aandag gegee aan sy dogter en die seun geïgnoreer.

Oorweeg jy surrogasie?

Klik hier  vir nog inligting oor veilige en wettige maniere om babas plaaslik deur ’n surrogaatma te laat verwek.

- Mieke Vlok

Bronne: watoday.com.au, the guardian, the independent; BBC, Channel 9

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.