Vlug MH370 het op 8 Maart vanjaar onverklaarbaar verdwyn onderweg van Koeala Lumpur na Beijing, en sedertdien was daar nog geen teken van die vliegtuig of die 239 mense aan boord nie.

Die vliegtuig het vermoedelik in die suide van die Indiese Oseaan ver van die Australiese weskus neergestort, maar ’n uitvoerige soektog in die lug en ter see, asook ’n onderwatersoektog, het geen antwoorde opgelewer nie.

Kenners het nou tegniese data gebruik om die waarskynlikste laaste rusplek van die vliegtuig op die seebodem vas te stel en berei nou voor op ’n intensiewer soektog om dit op te spoor.

Hulle gaan nou die hele moontlike impaksone deursoek, wat sowat 60 000 km² van die seebodem aan die kus van Wes-Australië beslaan,” het Tony aan die Australiese Uitsaaikorporasie gesê.

“As die vliegtuig daar onder is – en die kenners meen dit het iewers in hierdie boog aan die kus van Wes-Australië  neergestort – is daar ’n redelike kans dat ons dit sal opspoor, want ons gebruik die beste beskikbare tegnologie.”

Tony het gesê die owerheid het in die eerste stadium van die soektog in onstuimige en afgeleë water “hul bes met die beskikbare toerusting gedoen”.

Hy het gesê die volgende stadium, die diepwatersoektog waarvoor Australië die Nederlandse firma Fugro Survey ingespan het, gaan “in die volgende maand of wat” begin en kan tot ’n jaar duur.

Tony het herhaaldelik gesê Australië sal hul bes doen om die vliegtuig op te spoor en help vasstel wat met die Boeing 777 skeefgeloop het sodat die familie van die slagoffers, en die breë reisende publiek, afsluiting kry oor wat gebeur het.

“Ons is vasbeslote om reg op te tree ter wille van die Australiese families wat hul geliefdes in hierdie voorval verloor het; ons is vasbeslote om reg op te tree ter wille van die bedroefde families,” het hy gesê.

“En daar is nog ’n lang pad voor ons sal tou opgooi.”

Daar was ses Australiërs aan boord van die vlug; die meeste passasiers was Chinees.

Die soektog van die seebodem gaan sonartoerusting en videokameras gebruik om enige wrakstukke op te spoor en uit te ken.