Drie Australiese branderryers het Maandagmiddag ’n 15-jarige seun gered wat in die branders by Beach Break in Jeffreysbaai in die moeilikheid beland het.

Volgens Rieghard Janse van Rensburg, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Jeffreysbaai, het hulle berigte van ’n verdrinkende kind ontvang. Die kind het daarin geslaag om self uit die see te kom, maar gesê sy vriend het onder die water verdwyn.

“Op pad na die toneel het ’n ooggetuie vertel die kind wat glo onder die water verdwyn het, ’n 15-jarige seun van Welkom, is deur drie Australiese branderryers uit die branders gered,” het Rieghard in ’n verklaring gesê.

Luidens berigte het die drie Australiese branderryers, Mitchell Ellis, Nate Searle en Luca Stevenson, in die breeklyn van die branders op die seun afgekom en hom gegryp. Hulle het hom tot op die strand gekry, waar bevind is hy is in ’n kritieke toestand.

“Ons het die tiener op suurstof geplaas, ’n verhitte kombers en noodkombers is aangewend en die Oos-Kaapse Regering Gesondheid se mediese nooddiens het op die toneel aangekom. Hulle het die tiener in ’n stabiele toestand per ambulans hospitaal toe vervoer vir waarneming vir sekondêre verdrinking en voortgesette mediese behandeling,” het Rieghard bygevoeg.

Die seun sal na verwagting ten volle herstel.

Bron: News24