Die man het Saterdag suid van Perth van ’n boot geduik en op die walvis geklim wat blykbaar reeds deur haaie bygekom is.

“Ek was saam met ’n paar vriende op ’n boot en een het gesê dit sou nogal snaaks wees as ek op die walvis branderplankry, toe doen ek dit,” het die 26-jarige, wat net as Harrison wou bekendstaan, aan Channel 7 gesê.

Nadat hy op die drywende karkas geklim het, kon Harrison sien dit is omring deur haaie. Sy vriende het die gevaar van die situasie besef en gesê hy moet terugkom.

“Hulle was besig om aan die walvis te eet; dit was nie te erg nie,” het hy gesê van die haaie, waarvan een ’n grootwithaai was.

Maar hy het gesê hy sal dit beslis nie weer doen nie en het erken hy kon sy lewe verloor.

“Ek het dit gedoen en sal dit nie weer doen nie. Dit was beslis iets doms; ek wou nie minagting aan enigeen betoon nie,” het hy gesê.

“My ma dink ek is ’n idioot; my pa is self ook nie te trots nie.”

Die walvis het nou by Scarborough-strand uitgespoel. Die strand is gesluit nadat lewensredders vier groot haaie in die gebied gesien het.

Kenners meen die man se gedrag kon ernstige gevolge ingehou het vir hom en enigeen wat hom sou help.

“Dit is baie gevaarlik om om so ’n groot voedselbron die water te betree; al kan jy nie haaie sien nie, is dit waarskynlik dat die karkas hulle van vêraf lok,” het Tony Cappelluti van die Australiese departement van visserye aan The West Australian gesê.

“Ongeag wat mense hieruit probeer kry, is dit steeds baie gevaarlik.”

Kenners sê haaiaanvalle, wat volop is Australiese waters is, neem toe soos watersport gewilder raak.

Verlede maand het ’n jong branderplankryer dele van albei arms in ’n haaiaanval aan die suidkus van Wes-Australië verloor.

Die mees onlangse noodlottige voorval was in September toe ’n man by Byron-baai aan die ooskus voor sy vrou sterf.

Bron : Sapa-AFP/gf