Dié aantreklike akteur is tans in ’n diplomatieke stryd gewikkel met die Australiese regering oor sy twee yorkshireterriërs.
'As ons filmsterre begin toelaat om na ons nasie te kom en ons wette te oortree, wat keer ons om sommer die wette vir almal te oortree?'

Johnny is in Australië vir verfilming van die jongste aflewering van die gewilde Pirates of the Caribbean-reeks.

Sy honde, Boo en Pistol, het ’n tydjie gelede saam met hom die land per privaat vliegtuig binnegekom.

Die akteur is nou voor stok gekry omdat hy nie sy honde eers onder kwarantyn geplaas het nie, soos die Australiese wet vereis.

Hy het bloot met sy privaat straler geland en alle doeanevereistes vrygespring.

Nou het die Australiese minister van landbou, Barnaby Joyce, die akteur gewaarsku as hy nie sy diere binne 50 uur uit Australië verwyder nie, sal hulle van kant gemaak word.

“Daar is ’n proses wat gevolg moet word,” het Barnaby gesê. “As ons filmsterre begin toelaat om na ons nasie te kom en ons wette te oortree, wat keer ons om sommer die wette vir almal te oortree?”

Dit is onduidelik of Johnny al gehoor gegee het aan Barnaby se vereistes. Vele hooggeplaastes in die Australiese regering, onder wie die minister van immigrasie, het hul stem by Barnaby s’n gevoeg.

Meer as 600 mense het binne die eerste uur ’n aanlyn petisie geteken wat die landbouminister maan om nie die honde van kant te laat maak nie.

Bronne: Time.com; The Guardian