Australië se polisie ondersoek One Direction nadat hulle glo oor drie rooi verkeersligte gejaag het.

Die voorval het glo een aand in Perth gebeur. Nick Anticich, die polisiekommissaris van Wes-Australië, het vertel die voorval word ondersoek. Hy sê die Britse seunsgroep se supersterstatus tel nie.

Hy het aan Perth Now gesê: “Ek is daaroor ingelig, en ek het ons verkeersafdeling gevra om daarna te kyk. Ons moet die feite vasstel en natuurlik ook of daar bewyse is wat die bewerings staaf.

“Dis onaanvaarbare gedrag. Dis ’n oortreding van die wet en ons behandel almal dieselfde.

“Dat hulle rocksterre is, gee hulle nie die reg om enige wet te oortree of anders as enigiemand anders op te tree nie. Hulle is dalk One Direction, maar al rigting waarheen hierdie soort oortreding gaan, is hof toe.”

Die groep – Louis Tomlinson, Harry Styles, Niall Horan, Liam Payne en Zayn Malik – het met ’n privaat vliegtuig daar aangekom en is deur drie Mercedes Benz-motors opgelaai. Hulle het toe van ’n groep aanhangers probeer wegjaag.