Jy kan sewe ander mense se lewens red.

Dis reg: Een hart, twee longe, twee niere, een lewer en een pankreas kan sewe mense ’n nuwe kans op die lewe gee.

In Suid-Afrika is minder as 0,2 persent van die bevolking geregistreerde orgaanskenkers. Dis ver minder as in ander lande: 37 persent van die Amerikaanse bevolking en 24 persent van Australiërs is byvoorbeeld geregistreer as skenkers.

Die Orgaanskenkingstigting van Suid-Afrika hoop om vandeesmaand sy doelwit van 50 000 registrasies te haal. Dis dringend noodsaaklik; meer as 4 000 mense in Suid-Afrika wag tans op ’n orgaanoorplanting. Elke jaar word minder as 600 oorplantings uitgevoer en baie volwassenes en kinders sterf terwyl hulle op ’n lewensbelangrike oorplanting wag.

’n Mens kan gratis as ’n orgaanskenker registreer en die prosedure is eenvoudig: Besoek bloot die Orgaanskenkingstigting se webtuiste, www.odf.org.za, of bel die tolvrye nommer 0800-22-66-11.

Inligtingstukke sal vir jou gepos word. Dit sal ’n orgaanskenkingskaart en plakkers vir jou identiteitsdokument en rybewys insluit. Dis belangrik dat jy jou besluit met jou familie bespreek, aangesien hulle ten tye van jou dood toestemming moet gee. Moedig gesinslede, vriende, kollegas en almal wat jy ken aan om ook orgaanskenkers te word. Jy kan op die webtuiste www.odf.org.za sewe vriende of familielede se e-posadresse invul. Die Orgaanskenkingstigting sal hulle dan namens jou nooi om orgaanskenkers te word. Saamtrekke 1.    Die 2013 Wêreldoorplanting-Somerspele, Durban Vanjaar se Wêreldoorplanting-Somerspele duur nog tot 4 Augustus. Dis die grootste geleentheid ter bevordering van orgaanskenkings ter wêreld, met 1 800 deelnemers uit 50 lande in alle ouderdomsgroepe. ’n Groot verskeidenheid sportbyeenkomste word daarvoor in Durban gehou. Die Spele is ’n viering van die menslike gees en gee mense wat lewensgevaarlike siektes gehad het die geleentheid om te wys dat hulle normale, vervulde lewens kan lei en die grense van hul fisieke uithouvermoë verskuif. Vir nog inligting, besoek www.wtg2013.com. 2.    “Mad Hatters Civvies’’-dag Dis op Vrydag 2 Augustus  gehou. Plakkers is vir ’n donasie van R10 by die Orgaanskenkingstigting gekoop en lede van die publiek is aangemoedig om dié dag hul gunsteling verspotte hoed skool of werk toe te dra. Daar is fantastiese pryse vir die drie beste foto’s wat die stigting ontvang. 3.    Orgaanskenkings-huldediens, Johannesburg  Die diens bring hulde aan orgaanskenkers en hul families. Dit word op Woensdag 21 Augustus 2013 om 10:30 by die Fourways-gedenkpark gehou. 4.    Bewusmaking Vandeesmaand hou die Orgaanskenkingstigting ’n hele paar bewusmakingsgeleenthede, soos ’n dag lange radiothon en stalletjies by winkelsentrums, maatskappye en ander instansies.  5.    Registreer

Jy kan by die Kaapse Homemaker’s Expo as ’n orgaanskenker registreer. Dit vind van Donderdag 29 Augustus 2013 tot Sondag 1 September 2013 by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum plaas.

-       Faiza Mallick

Bron: Orgaanskenkingstigting van Suid-Afrika