Ashton Kutcher was heeltyd in ’n slegte bui op die stel van Jobs omdat hy omtrent net druiwe geëet het.

Ter voorbereiding vir die biografiese fliek oor wyle Steve Jobs, die skepper van Apple, het die 35-jarige akteur Steve se vrugtedieet gevolg. Sy medesterre het gou onder die negatiewe gevolge van die drastiese eetpatroon deurgeloop.

Josh Gad (32), wat die rol van Steve se vennoot, Steve Wozniak, vertolk, het geskerts: “Hy was op ’n vrugtedieet. Ek was op ’n kaasburgerdieet. Dit het ’n baie hoër tol van hom as van my geëis. Hy was die eerste paar dae humeurig omdat hy net druiwe geëet het.”

Die slegte bui het darem nie Ashton se speeltalent benadeel nie, want Josh het bygevoeg dat hy “seker my beste toneelvennoot nog was”.

Die akteur van Two and a Half Men het onlangs hy is inderhaas hospitaal toe geneem met kwaai pankreaspyn nadat hy weke lank dieselfde dieet as die rekenaarmeester gevolg het. Steve is in Oktober 2011 dood aan ’n rare tipe pankreaskanker.

Ashton het ook sy kennis opgeknap oor Zen-Boeddisme, wat Steve gevolg het, en het die hulp van ’n spelleier ingeroep om hom Steve met al sy geite te help uitbeeld.

Ashton het gesê: “Die waardevolste ding wat ek gedoen het, was om te erken dat ek waarskynlik nie weet hoe om dit te doen nie. Ek het ’n afrigter gekry wat my gehelp het om dit te doen.

“Soms wanneer ’n mens nederig genoeg is om te erken dat jy nie weet wat jy doen nie, kan jy iemand kry wat jou wys dat jy dit dalk wel kan doen.”