Ashton Kutcher mag glo nie tydens die verfilming van Two and a Half Men partytjies hou in sy mobiele blyplek nie.

Die akteur hou glo graag partytjie, maar televisiebase het nou verbied dat hy gaste onthaal in sy woonwa, wat sowat R22 miljoen werd is.

’n Bron het aan die Amerikaanse tydskrif Star gesê: “Elke Vrydagaand ná die verfilming het Ashton tot diep in die nag wilde partytjies gehou.

“Die partytjies, wat berug is onder die akteurs en werkers, het soms hand uitgeruk. Sy bekende vriende het dikwels by sy woonwa uitgestrompel.”

Die ster steur hom glo maar min aan die verbod wat die base van Warner Bros ná klagtes oor die partytjies ingestel het nie.

Ashton het die afgelope maand sy beste voetjie voorgesit by sy tweelingbroer, Michael, en Mila Kunis se troue op St. Simons-eiland. Hy het glo “rustig en gemaklik” tydens die seremonie en onthaal voorgekom.