Ashton Kutcher en Demi Moore vlieg saam.

Ashton (35) en Demi (50) is afgeneem terwyl hulle geselsend die Burbank-lughawe in Los Angeles verlaat het. Hulle het kort tevore op dieselfde vliegtuig daar aangekom. Die ster van Two And a Half Men en sy vervreemde vrou is in November uitmekaar.

’n Bron het aan die skinderwebtuiste TMZ.com vertel hulle het mekaar raakgeloop op ’n konferensie oor tegnologie in San Jose, Kalifornië. Die twee was ses jaar getroud, maar is uitmekaar nadat dit aan die lig gekom het Ashton het twee jaar gelede ’n verhouding met ’n student gehad.

Dit het gelyk asof die voormalige paartjie vriendelik gesels. Dis ten spyte van gerugte dat Demi hul egskeiding vertraag omdat sy onderhoud en regskoste eis.

Ashton het in Desember 2012 aansoek gedoen om van Demi te skei, maar hul egskeiding is nog nie afgehandel nie.

Die akteur se meisie, Mila Kunis (30), het verlede maand ’n goue ring aan haar vinger gedra terwyl sy blomme gekoop het in Studio City, Kalifornië. Dit het bespiegeling laat ontstaan dat sy en Ashton dalk verloof is.

’n Bron het onlangs gesê: “Hulle beplan om binnekort verloof te raak. Om by Mila te wees het Ashton laat terugkeer na wie hy werklik is.

“Hy het nie baie meisies nie; hy konsentreer daarop om Mila te geniet en hoe gelukkig sy hom maak. Sy is nie so jaloers soos Demi was nie. Hy bel haar omdat hy wil en hulle gesels die hele tyd wanneer hulle nie bymekaar is nie.”