Kort voor hul pragoorwinning oor Spanje, het die webtuiste Ashley Madison, wat aanlyn afsprake reël vir getroude paartjies wat daaraan dink om oor die tou te trap, vir Bafana Bafana ’n R10 miljoen borgskap aangebied.

'Sportlui is bekend vir hul verneukery'

“Sportlui is bekend vir hul verneukery, en ons voel ’n verbintenis tussen ons webtuiste en hierdie indrukwekkende span se prestasies kan ’n magtige vennootskap word,” het die webtuiste se stigter en hoof uitvoerende beampte, Noel Biderman, glo in ’n brief geskryf aan Danny Jordaan, die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se baas.

Maar volgens Safa se woordvoerder, Dominic Chimhavi, het hulle geen brief ontvang nie en is dit net een van die webtuiste se bemarkingsfoefies.

“Ons het nie geen brief ontvang nie,” het hy aan The Star gesê.

“Die Bafana Bafana-handelsmerk is in elk geval ’n nasionale bate; ons sal dit nie met iets wil laat vereenselwig wat ’n bespotting daarvan sal maak nie.”

– Sapa.