Dis glo wat jy doen as soen vir jou vervelig raak, sê The Guardian se Stuart Heritage.

Dié vreemde gebruik, bekend as okulolinktus, het onlangs onder voortieners en tieners in Japan gewild geraak. Die Japannese webtuiste Naver Matome berig tot ’n derde van ’n groep 12-jariges het dit al probeer.

Die webtuiste berig verder ’n onderwyser by ’n Japannese laerskool het opgelet ’n groep leerders begin oogklappe dra en sukkel met karkatjies. Nadat hy op ’n paartjie afgekom het wat besig was om te worm (soos die ooglekkery ook bekendstaan), het hy gesnap hoekom.

“Hier kan niks goed van kom nie,” het die oogkundige David Granet aan The Huffington Post gesê. “Die tong het riwwe wat die kornea kan krap. As iemand nie hul mond skoongemaak het nie, kan suur van sitrusprodukte of speserye in die oog beland.”

Volgens Medical News Today kan worming selfs blindheid veroorsaak. “As die lekker se asem sleg ruik, is daar heel moontlik ’n klomp skadelike bakterieë in dié se mond. As daardie persoon jou oog lek, verhoog dit jou kans op infeksie, want die oog het ’n absorberende membraan.”

Dit skrik blykbaar nie die Japannese jeug af nie. Daar is verskeie inskrywings op webtuistes soos YouTube en Tumblr, waar hulle boonop hul worming-videos en -foto’s plaas.

Dié fetisj versprei klaarblyklik ook na ander dele van die wêreld. Elektrika Energias (29), ’n student van die Virginiese Eilande, het aan The Huffington Post gesê: “My eks het vir jare my oë gelek; ek is mal daaroor. Ons is nie meer saam nie, maar ek vra steeds ouens moet dit doen . . . dit prikkel my.”

Sy het bygevoeg sy het ses jaar gelede “ ’n soort tuberkulose” in haar oog gekry, wat gelei het tot swere op haar korneas en ’n maand in die hospitaal. “Ek is deesdae seker net versigtiger . . . ’n mens is nooit te oud om te leer nie. Daar is nie so iets soos tong-kondome nie, maar miskien kan iemand so iets uitvind.”

- Kirstin Buick

Bronne: guardian.co.uk, telegraph.co.uk, medicalnewstoday.com, isciencetimes.com, huffingtonpost.com