Die ma van Fanie du Preez, wat aangekla word van die moord op sy gesin op 3 Desember 2015, het Woensdag aan regter De Vos gesê as haar kind die moorde gepleeg het, moet hy “sy straf vat”.

Fanie het glo aan sy ma, Joan, erken hy het ’n geruime tyd ’n verhouding met ’n vrou van Secunda gehad.
Joan het ook getuig die Woensdagaand was daar wel ’n stryery oor ’n huis wat verkoop moes word en wat met die opbrengs moes gebeur.

Vroeër vandag

Fanie het getuig hy sou ’n nuwe onderneming begin vir die maak van apparate vir sekswinkels. Thea, sy oorlede vrou, sou glo daarmee help.

Hy het aan die hof gesê hy was die oggend ná die moorde deurmekaar. Hy het nie vir KC Coertzen (sy swaer), Brandon Grové (Carlia se vriend) of vir Rina Fouché (Thea se suster) van die Libanese vertel nie. Hy het wel aan sy ma genoem dwelmbase was betrokke.

Die 9 mm-pistool is na bewering agter die sitplek in Fanie se bakkie gehou. Die oranje handskoene, wat volgens Fanie bedoel was vir wanneer hy met byvoorbeeld toue werk, is ook hier gebêre. Adv. Erik van der Merwe het dit aan Fanie gestel dat die Libanese die vuurwapen uit die bakkie geneem, dit agter die voordeur gelos en toe die oranje handskoene en twee vuurwapens in die plafon weggesteek het. Fanie het dit beaam.

Hy kon egter nie verduidelik wanneer die Libanese die betrokke vuurwapen in die hande gekry het nie. Hy het wel beweer hulle het hom rondgeruk en dat hy so ’n blou kol op sy bors opgedoen het.

Op ’n vraag van Erik oor hoe Fanie die ammunisie gekry het, het Fanie bevestig hy het dit onwettig besit. Jaco van Wyndaardt, ’n neef van Fanie, het ook vandag in die getuiebank verskyn.

Fanie het glo begin huil nadat hy Jaco vertel het almal is dood.

Koos van Wyngaardt, Fanie se stiefpa, het daaropvolgens getuig sy vrou, Joan, het hom op 3 Desember om 04:10 wakker gemaak. Fanie het glo geskree daar is ’n ‘‘f****’’ in die huis.

Die saak is tot Vrydag om 11:00 uitgestel vir slotbetoë.