Wat is koliek?

Navorsers gebruik die volgende definisie: “ ’n Gesonde, welgevoede baba wat meer as drie uur per dag, meer as drie uur per week, vir meer as drie weke lank huil.”

Wat veroorsaak dit?

Niemand is steeds heeltemal seker nie, maar navorsing stel ’n paar moontlikhede voor, soos allergieë, laktose-onverdraagsaamheid, angstigheid van die moeder en oorstimulasie.

Wat kan jy doen?

Maak heel eerste seker dat jou baba goed deur ’n pediater ondersoek word om te kyk of daar ’n mediese rede vir die huilery is.

Koliek word dikwels veroorsaak deur spysverteringsprobleme. Gee dus veral aandag aan ’n huilerige baba se voedingsgewoontes.

Jenny Wright van The Parent Centre beveel aan dat ma’s hulp kry met borsvoedingbestuur. “Dit kan ongelooflik baie help, aangesien sommige ‘koliek-gevalle’ eintlik ’n probleem met borsvoedingbestuur is. Daar is nou baie laktasiekonsultante (sogenaamde “International Board Certified Lactation Consultants” of IBCLC’s) in Suid-Afrika met die kennis om ma’s by te staan om te bepaal of borsvoeding tot die probleem bydra.”

  • Herdink die spyskaart. Koliekbabas het soms ’n melkallergie. Verander ’n rukkie jou eie dieet as jy borsvoed (deur byvoorbeeld suiwel uit te sny) en kyk of dit help. Of ondersoek ander soorte formulemelk as jy jou baba daarmee voed.
  • Alhoewel dit moontlik koliek kan wees, beveel kenners aan dat jy jou baba se huilgewoonte dophou om te sien of daar ’n patroon is. Dit is byvoorbeeld moontlik dat jou baba oorgestimuleer is deur te veel tyd buite die huis of tussen klomp mense en dan baie minder verdraagsaam is wanneer dit kom by “gewone” moegheid, honger of ’n nat doek.
  • Kry die regte bottel. As jy jou kind met ’n bottel voer, maak seker die bottel dra nie  daartoe by dat hulle winde sluk nie. Hoe meer lug die baba sluk terwyl hulle drink, hoe groter is die moontlikheid vir maagmoeilikheid. Die gaatjie behoort nie te klein of te groot te wees nie; ’n te klein gaatjie frustreer hulle sodat hulle groter slukke probeer vat, terwyl ’n te groot gat sal veroorsaak dat die vloeistof te vinnig kom.
  • Gebruik ’n warmwatersak. Party babas hou van die gevoel van warm water teen hul maag. Gebruik louwarm water om die sak vol te maak, draai dit toe in ’n handdoek en sit dit op jou maag. Laat jou baba bo-op jou lê. Maak seker die water is nie te warm nie – onthou, dit wat vir jou aanvaarbaar is, kan dalk vir jou baba vuurwarm wees.
  • Babas reageer verskillend op klank. Probeer ’n paar tegnieke om te kyk wat werk:

    • Musiek. Sing vir jou baba of speel ’n CD met wiegeliedjies op. ’n Mens kry selfs CD’s wat die geluide binne die baarmoeder namaak.
    • Raas ’n bietjie. Party kenners meen babas hou van geluide wat hulle herinner aan hul tyd in die baarmoeder. Hou die baba teen jou vas terwyl jy stofsuig, kyk of die tuimeldroër se geluid ’n effek het, of gaan ry ’n entjie in die motor.
    • Sjjjjt. Party babas het minder stimulering nodig en verkies ’n stil, donker plek.
    • Kry hulp! Moenie vergeet dat jy moet slaap nie. Roep ’n vriendin of ’n ouma se hulp in as dit nodig is. Jy sal verbaas wees hoe ’n groot verskil ’n goeie slapie aan jou gemoedstoestand en energievlakke maak.

Hier’s nog hulp:

  • Gaan loer in by babycalm.co.za. Dié webtuiste is vol produkte en raad vir ma’s van babas met onder meer koliek, slaapprobleme en kosallergieë.
  • Dr. Harvey Karp, ’n Amerikaanse pediater en skrywer van die boek The Happiest Baby on the Block beveel ’n metode, die sogenaamde “5 S’e”, aan om jou baba te laat ophou huil. Lees gerus meer hier oor die metode.
  • Vir alle Kaapstad-ma’s: Linda Waner, ’n fasiliteerder by The Parent Centre in Kaapstad, het alle verwagtende ma’s of ma’s met babas jonger as ’n jaar genooi na ’n praatjie oor koliek en refluks. Dr. Deon Smith, ’n Kaapstadse pediater, sal dié praatjie op 27 Mei om 11:00 by die Kaapstadse Mediclinic lei. (Meer inligting by theparentcentre.org.za  of 021-762-0116.)

-Suzaan Hauman

Bronne: Webmd.com, livingandloving.co.za, babycenter.com, parenting.com