Die fliek was die afgelope naweek die voorste kaartjieverkoper in 12 van Ster-Kinekor se teaters landwyd, en het ook reeds R1,5 miljoen by die loket verdien. Dit plaas die fliek in die tweede plek van dié wat tans wys: In die eerste plek is die Amerikaanse aksiefliek Thor en in die derde plek die plaaslike animasiefliek Khumba. Die fliek het ook in sy openingsnaweek meer uit kaartjieverkope verdien as verskeie ander Afrikaanse flieks wat onlangs uitgereik is, waaronder Semi-soet, Bakgat 2 en Klein-Karoo.

Dié rolprent wat die afgelope naweek begin draai het, spog met van die grootste name in die musiekbedryf, onder wie Johan Vorster as regisseur, Bobby van Jaarsveld in die hoofrol en verskeie ander groot name, soos Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld, Robbie Wessels en Hanna Grobler.

Maar die sterbelaaide rolverdeling beteken nie dat almal van die film gehou het nie.

“Die draaiboekskrywer het die spoor halfpad al byster geraak en ’n storie gelewer wat baie vreemd is – so asof die dele nie lekker bymekaarpas nie,” skryf Laetitia Pople in haar resensie in Beeld.

The Citizen se PJ Mcenery stem saam met Pople. “As Jy Sing is eenvoudig swak,” lees die opskrif van sy resensie. “Hierdie skyn probeerslag om ’n fliek te maak is bloot saamgestel rondom die glans van hartebrekersangers,” meen hy.

Daarteenoor is Rapport se Vania van der Heever gaande oor die fliek: “As jy van ligte Afrikaanse musiek hou, gaan die klankbaan jou voete laat jeuk,” het sy gesê.

Twitter het gegons met lofprysinge deur aanhangers van die film.

Dalk is dit die beste om die fliek te gaan kyk en self te besluit. Een van Bobby se aanhangers het juis op Twitter gejubel dis die “beste Afrikaanse movie oooooit”.

As Jy Sing wys tans by Ster-Kinekor-teaters landswyd.

Petronell Vorster