[caption id="attachment_173681" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Akademici van die Universiteit van Connecticut het vasgestel mense wat ‘n leefstyl handhaaf waar hulle meestal sit, kan hul gemoed verbeter en die risiko van depressie verminder deur net te beweeg en oefening te doen.

Meer as 400 gesonde middeljarige grootmense se fisieke aktiwiteit is oor vier dae gemonitor waartydens hulle versnellingsmeters aan hul heupe gedra het.

Deelnemers het ook ‘n reeks vraelyste voltooi waarin hulle hul daaglikse oefengewoontes moes beskryf, asook hul sielkundige welsyn en daaglikse aktiwiteite.

Hierdeur is ontdek dat oefening oor die algemeen mense se gemoed verbeter het.

“Terwyl ligte en matige fisieke aktiwiteite duidelik ‘n verskil gemaak het in hoe mense oor hulself voel, was die resultate oor strawwe oefening neutraal,” berig die navorsers.

“Daar was geen positiewe of negatiewe assosiasie tussen aktiwiteite van hoë intensiteit en die deelnemer se gemoedstoestand nie.”

Die navorsingleier, Gregory Panza, het gesê hy hoop die bevindings help mense om te besef dat net ligte of matige fisieke aktiwiteit so ‘n positiewe uitwerking het.

Hy verduidelik ligte fisieke aktiwiteit is iets soos ‘n ontspannende stappie met geen opmerklike toename in asemhaling, hartklop of sweet nie.

Matige aktiwiteit is as jy sowat 1,6 km in 15-20 minute kan stap met ‘n toename in asemhaling, hartklop en sweet, maar steeds gemaklik ‘n gesprek kan voer.

“Dit is dus goeie nuus vir onaktiewe mense dat hulle hulle nie hoef dood te oefen om dié verbeterings te sien nie,” sê Panza.

– Cover Media