Lag is mos maar ’n bietjie soos gaap – doen een dit, dan steek almal aan.

Ken jy daai gevoel wanneer jy weet jy mag nie lag nie, maar jy kan jouself net nie inhou nie? Wees bly jy werk nie op TV nie.

Eers is daar hieride Britse TV aanbieder  wat verskriklik hard probeer om by sy Britse ordentelikheid te hou en nie vir die naam van ’n bekende sportster te lag nie.

Dan is daar hierdie Russiese nuusleser wat só ’n belaglike storie moes voorlees dat sy net nie die opname kon klaar maak nie. Ons gunsteling oomblik is as sy vir die telesouffleur vra om die teks vinniger te laat loop. Want iets absurd klink mos minder snaaks as jy dit vinniger sê, né? Maar nee – sy lag net harder. Kort voor dit gee sy amper op: “Dis só snaaks. Kan ons dit los?”

Hierdie arme Nederlandse kletsprogramaanbieder word verras deur sy gas se onnatuurlike hoë stem… en dan probeer iemand in die gehoor vir die gas in die bres tree – en dit met ’n ongewone lae stem. Dit alles is net te veel vir die niksvermoedende aanbieder.

Laaste is hierdie Amerikaanse nuusleser wat dit net verloor – vir geen duidelike rede nie. Dit word so erg dat haar mede-aanbieder vir iemand vra om in te staan.