As jy vandag moet werk en jy kan nie heeldag voor die televisie wees nie, hier is die oomblikke wat jy móét sien:

11h10 – Prins William en Harry kom by die Westminster Abdy aan.

12h00 – Kate Middleton kom by die abdy aan en die wêreld sien vir die eerste keer die bes bewaarde geheim van die dag – die trourok.

Die eerste soen gaan gebeur ná die troubeloftes, waarskynlik sowat 15 minute nadat die formele huweliksplegtigheid begin het.

Terwyl die pasgetroude Hertog en Hertogin van Cambridge die trouregister onderteken, sal die Britse lugmag se trompetspelers ‘n 30 sekonde lange deuntjie speel. Dis genaamd “Valiant and Brave” en is spesiaal vir die troue gekomponeer.

Kate sal, soos tradisie bepaal, ná die seremonie haar ruiker op die graf van die Onbekende Soldaat, binne-in die adby neerlê. Hierdie tradisie is in 1923 begin deur die koningin-moeder en is sedertdien nagevolg deur elke koninklike bruid wat in dié abdy getroud is.

13h15 – Die koetsrit na Buckingham-paleis.

14h25 – Die SOEN op die balkon van Buckingham-paleis. Dit is die oomblik wat die Britse publiek sedert die 1800’s met elke koninklike troue meegemaak het. Prins William en Kate sal op die paleis se balkon verskyn vir hulle eerste soen in die openbaar.

14h30 – Verbyvlug deur die Britse lugmag.

*Bogenoemde is SA tyd. Die verrigtinge word uitgesaai op SABC3 en eTV asook op DSTV se nuus-kanale.