’n Kuberkraker probeer om rekeningbesonderhede van mense wat by LinkedIn geregistreer is, aanlyn te verkoop.

Sowat 117 miljoen LinkedIn-gebruikers kan glo hierdeur geraak word.

Die kraker, wat as “Peace” bekend is, het aan Motherboard bekend gemaak van die inligting is reeds in 2012 bekom.

Maar niemand het verwag dat die destydse 6,5 miljoen rekenings wat toe geraak is, tot ’n allemintige 117 miljoen sou toeneem nie.

Peace probeer glo van die inligting op die web se onwettige handelsplatform The Real Deal verkoop, natuurlik in kuberkontant: vyf bitcoin (digitale bate) wat byna R35 000 beloop.

Peace is nie die enigste kwajong in die verhaal nie. LeakedSource, wat ’n betaalde kuberkraaksoekenjin is, het kwansuis ook die onregmatige data in hul besit.

Of dit grootpraat is of nie – tussen die twee bronne het die kwesbare rekenings glo altesaam nou tot 167 miljoen gestyg. Boonop spog hulle daarmee dat 90 persent van die rekenings reeds “gekraak” is.

LeakedSource het glo reeds ’n miljoen rekeningbesonderhede aan Motherboard beskikbaar gestel. Dit bevat e-posadresse, hutsmerk-sleutelwoorde en die ooreenstemmende sleutelwoorde wat deur die krakers ontsyfer is.

Die LinkedIn-woordvoerder Hani Durzy het Dinsdag gesê hulle kan nie bevestig of die data korrek is nie.

Indien jy ’n LinkedIn-rekening het en jy het nie jou sleutelwoord die afgelope vier jaar verander nie, sal dit ’n goeie idee wees om dit dadelik te doen. Moet ook nie sleutelwoorde vir ander rekenings herhaal nie. Jy kan jou ander aanlyn rekeninge daardeur ook kwesbaar maak.

LinkedIn is ’n sakegeoriënteerde sosiale netwerkdiens wat op 14 Desember 2002 tot stand gebring is. Die diens is van 5 Mei 2003 geaktiveer. Dit word hoofsaaklik aangewend as ’n professionele aanlyn netwerk.

Bronne: motherboard, metro.co.uk

Lees ook op Huisgenoot.com:

Meisie smeek om na selfdoodkliniek geneem te word elf jaar ná geheimsinnige goggabyt

Die smeulende Justin Serrao se weergawe van Kinders van die Wind sleur luisteraars mee

Foto van ’n pa wat sy siek seun troos word herhaaldelik van Facebook verwyder

Pieter Koen en Cordelia wil harte verower met dié liedjie

Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoekto