As jy vanoggend gedink het die ellelange, uitgerekte drama rondom Oscar Pistorius is eindelik verby toe regter Thokozile Masipa die staat se aansoek om teen sy vonnis te appelleer van die hand wys, het ons slegte nuus: Die einde van die lemnaeler se hofsage is nog nie in sig nie.

[caption id="attachment_120434" align="alignnone" width="600"]Oscar Pistorius (Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool) Oscar Pistorius (Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool)[/caption]

Dit is ’n byna uitgemaakte saak dat die staat nou ’n aansoek tot spesiale verlof tot die appèlhof in Bloemfontein sal rig om die vonnis van ses jaar om te keer wat Masipa die voormalige Paralimpiese held opgelê het, meen Marius du Toit, ’n strafregprokureur van Pretoria.

Lees ook: Het Oscar Pistorius regtig sy polse in die tronk gesny?

“Ek dink almal het voorsien dat regter Masipa die staat vandag in die hof ’n pak slae sou gee en adv. Gerrie Nel en sy span was daarop voorberei. Onthou, toe hulle die eerste keer geappelleer het, het Masipa ook net verlof tot appèl op die regsvrae toegestaan – nie die vonnis nie. Ek het gedink die kans is nul dat sy verlof sou toestaan,” sê Marius en voeg by ’n mens kan jou tot die appèlhof wend die oomblik dat ’n regter jou verlof tot appèl weier.

“Ek dink die staat het dié proses juis begin met die wete dat Masipa hul aansoek sal afkeur en dat hulle hulle dan tot die appèlhof sal wend.”

Lees ook: Is Oscar Pistorius se vonnis te lig?

Vir die appèlhof om so ’n aansoek toe te staan, moet ’n mens kan aandui buitengewone omstandighede is ter sprake en aantoon dat jou saak ’n redelike vooruitsig op sukses het. Dit moet iets buite die gewone alledaagse sake wees wat die appèlhof sal noop om in te meng, sê Marius.

“As die appèlhof ’n aptyt vir ’n saak het, sal hulle verlof toestaan.”

As Gerrie en sy span hulle wel tot die appèlhof wend en die aansoek word afgekeur, sal dit vir die voortslepende drama die einde van die pad wees, verduidelik Marius. Maar eers is die einde van die hofsage, wat sowat twee en ’n half jaar gelede in hof GD van die Pretoriase hooggeregshof begin het, nog nie in sig nie.