Eers dink jy sy is net agter die volgende rak klere of dalk het die speelgoedafdeling haar aandag afgetrek. Miskien het sy net gedrentel na die winkel langsaan? Wanneer jy besef jou kind is weg, begin jy paniekerig raak.

Hoe gemaak wanneer jou kid vermis raak in ’n winkelsentrum?

“Maak die veiligheidswag in die winkel dadelik bewus daarvan jou kind is weg,” sê Nicky Rheeder, die nasionale koördineerder van Vermiste Kinders SA. “Vra hulle om die winkelsentrumbestuur in te lig sodat al die ingange gesluit of dopgehou kan word.”

Sodra jy jou kind as vermis by die sentrum se bestuur aangemeld het, sal hulle die polisie laat weet. “Die polisie sal ’n halfuur op ’n gereedheidsgrondslag wees. As jou kind dan nog nie opgespoor is nie, sal hulle na die winkelsentrum gestuur word om te help soek,” verduidelik Roxanne Horn, die geleentheidskoördineerder van Tygervallei-winkelsentrum in Bellville.

Maak dan so:

  • Gee ’n gedetailleerde beskrywing van jou kind aan die veiligheidswagte.
  • Skree jou kind se naam, ouderdom en beskrywing so hard jy kan sodat mense jou kan help soek.
  • Maak seker die sentrumbestuur laat die polisie weet.
  • Vra die wagte moet die kleedkamers deursoek, mans en vroue.
  • Bel Vermiste Kinders SA by 072-647-7464 vir bystand.

“Leer jou kind van jongs af ’n veiligheidsplan sou hulle byvoorbeeld in ’n winkelsentrum vermis raak,” raai Nicky aan.

’n Paar goeie beginsels om aan te leer:

  • As jou kind wegraak in ’n winkel of sentrum, moet hulle na die wagte voor in die winkel gaan en daar wag.
  • Moenie by geen winkel uitloop sonder jou kind nie. Leer hom dieselfde reël. “Dit vermy gevalle waar ouers en kinders op verskillende plekke in die sentrum na mekaar soek, wat die kind kwesbaarder maak,” sê Nicky.
  • Oefen gereeld jul veiligheidsplan. Wanneer jy byvoorbeeld in ’n winkelsentrum rondloop, vra jou kind moet die veiligheidswagte uitwys.
  • Wanneer ’n vreemdeling jou kind nader, moet hulle so hard moontlik skree: “Jy’s nie my papa of mamma nie!” So sal omstanders bewus raak iets is nie pluis nie.
  • Hou altyd ’n onlangse foto van jou kind byderhand, selfs al is dit op jou slimfoon.
  • Wees bewus van wat jou kind elke dag aanhet, hul klere, hoe hul hare vasgemaak is en watter skoene hul dra.

- Shané Barnard