Elke ouer was seker al in dié moeilike situasie: Jy is in ’n winkelsentrum, omring deur vreemdelinge, wanneer jou kind histeries begin tekere gaan. Dalk was dit oor die speelding wat jy nie wou koop nie of die lekkergoed wat jy weet sleg is vir hom. Die vraag is: Gee jy toe aan sy eise of pas jy op die plek dissipline toe, ongeag die moontlike afkeurende kyke van omstanders? Dissipline op sigself is ’n tameletjie, maar soveel te meer wanneer jou kind in die openbaar ongehoorsaam is.

Verstaan die gedrag

Ouers kan net die kringloop van openbare ongehoorsaamheid breek as hulle ’n kind se gedrag verstaan, sê Nikki Bush, skrywer en kenner van kreatiewe ouerskap. “As jy nie jou kind se basiese behoeftes verstaan nie, soos dat hy moeg, honger, dors of verveeld is, kan hy negatiewe aandag probeer kry,” verduidelik sy.

Nikki sê daar kan baie oorsake van kinders se ongehoorsaamheid wees:

  • Jy is dalk baie besig en sy ongehoorsaamheid is sy manier om jou te laat verstaan hy voel jy skeep hom af.
  • Jou kind het dalk al op subtieler maniere jou aandag probeer kry. Sy luidrugtiger ongehoorsaamheid is sy laaste probeerslag.
  • Jou kind voel hy het nie beheer nie en sy gedrag is ’n manier om in beheer te voel.

Wees konsekwent

Jy moet konsekwent wees met dissipline, sê Eva Burger, ’n berader van Bellville. “Dit verwar kinders wanneer ouers die reëls of gevolge van ongehoorsaamheid verander omdat hulle in ’n openbare plek is,” verduidelik sy. “Straf hulle, selfs al is jy in die middel van ’n winkelsentrum.”

Jy hoef nie verleë te voel wanneer jy jou kind in die openbaar dissiplineer nie, sê sy. Inteendeel, jy leer jou kind jy kom jou beloftes na, verduidelik Eva.

Sy sê dis belangrik om nie straf te lank uit te stel nie, veral by kinders jonger as ses. “Kinders moet weet waarvoor hulle gestraf word; daarom moet dit so gou moontlik ná hul ongehoorsaamheid toegepas word.”

As jy nie voor mense wil raas nie, neem jou kind eenkant, sê Nikki. “Jy bereik niks deur jou of jou kind voor mense te verneder nie. Jy wil die kringloop stopsit, nie voortsit nie.”

Bespreek die reëls vooraf

“Dis ’n goeie idee dat jy die reëls vasstel voor jy saam met jou kind na ’n openbare plek gaan,” sê Eva. “Dan weet jou kind presies wat die gevolge van sy optrede sal wees.

“Verduidelik byvoorbeeld voor ’n uitstappie na ’n winkelsentrum wat sal gebeur as jou kind aanhou neul oor ’n speelding,” sê Eva. Dit kan ongemaklike situasies voorkom en verhoed dat jy enigsins jou kind in die openbaar hoef te dissiplineer.

“Kinders hou daarvan as hulle vooraf goed ingelig word oor wat byvoorbeeld in ’n restaurant of supermark gaan gebeur,” sê Nikki.

“Dit stel hulle gerus dat jy in beheer is. Hulle weet ook presies wat van hulle verwag word en wat moontlik gaan gebeur.”

Maak so as jou kind weer ’n vloermoer gooi, of een dreig

  • Moenie met jou kind probeer redeneer nie, sê Nikki Bush, ’n ouerskapkenner. ’n Groot fout wat ouers maak wanneer hul kind dreig om handuit te ruk, is om terug te baklei.
  • Probeer jou kind se aandag aflei. As hy begin neul omdat hy nie sy sin kry nie, vestig sy aandag op ander goed in die winkelsentrum of restaurant. Sê byvoorbeeld: “Goed, kom ons soek die rooi blikkie op die rak,” of: “Gaan tel hoeveel plastiekballe daar in die restaurant se speelplek is.”
  • As jou kind steeds ongehoorsaam is, neem hom kalm aan die hand en lei hom na ’n stiller hoekie. Verduidelik waarom sy gedrag onaanvaarbaar is en dat hy verskoning moet vra. As hy nog nie wil saamwerk nie, verduidelik dat julle dadelik huis toe sal gaan as hy nie gaan ophou stout wees nie.
  • As hy verwoed begin tekere gaan, neem hom uit die openbaar. “Tel jou kind op, druk hom styf vas en verlaat die gebou,” is Nikki se voorstel. Verduidelik dan in die motor of by die huis waarom sy gedrag gevolge inhou of laat hom in sy kamer afkoel.

- Shané Barnard

Ekstra bronne: parentdish.com, parents.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.