Wat lê vir die Paralimpiese naelloper Oscar Pistorius voor sou hy tronk toe moet gaan weens die moord op sy meisie, die model Reeva Steenkamp? En hoe lyk die lewe vir gestremdes agter tralies?

Sou regter Thokozile Masipa Oscar skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade (dit is wat die staat aanvoer), kan die atleet lewenslank opgesluit word.

Sou hy skuldig wees aan moord wat nie vooraf beplan is nie, kan die vonnis minstens 15 jaar wees, en vir strafbare manslag tronkstraf of ’n boete, of albei. In ieder geval is daar ’n kans dat hy tyd in ’n gevangenis sal deurbring.

Watter uitdagings sal dan wag op hom, ’n gestremde met kunsbene?

Sal Oscar sy kunsbene kan saamneem tronk toe?

Hoewel die Wet op Korrektiewe Dienste nie spesifiek voorsiening maak vir gestremdes nie, is die departement van korrektiewe dienste (DKD) fanaties daaroor dat gevangenes menslik gehanteer word. “As gevangenes se menseregte nie nagekom word nie, kan dit lei tot siviele eise teen die staat,” verduidelik Willie Clack, ’n senior lektor in korrektiewebestuur aan die Skool vir Straflegpleging by Unisa. Oscar se eksmeisie Samantha Taylor het in die eerste week van die opspraakwekkende hofsaak getuig hy is nie heeltemal stabiel wanneer hy op sy stompies rondbeweeg nie en moet aan voorwerpe vashou om homself te balanseer.

'Ek het al rolstoele, kunsbene en krukke in tronke gesien.'

“Ek het al rolstoele, kunsbene en krukke in tronke gesien,” sê Willie.

“Niemand sal ondersteunende hulpmiddels net wegvat nie.

“Die regulasies is baie spesifiek wanneer iemand met kunsledemate in ’n tronk opgeneem word: ’n Verpleegkundige moet dit aanteken en dit mag slegs in opdrag van ’’n dokter weggeneem word.”

Maar die vraag is: Wat kan ’n gevangene met daardie hulpmiddel doen? “Krukke is byvoorbeeld hol,” sê Willie. “Kan gevangenes goed daarin wegsteek? Indien wel, sal die owerheid besluit hoe hulle die saak moet hanteer.” Wat is die uitdaging vir gestremdes in die tronk? “Dis soortgelyk aan dié wat gestremdes buite die tronk ervaar: toeganklikheid,” sê Jacques Sibomana van die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders (Nicro).

'Die DKD sien gestremdes as ’n kwesbare groep.'

“Die DKD sien gestremdes as ’n kwesbare groep, maar ons is nie altyd seker wat die geriewe is wat spesifiek vir gestremde mense beskikbaar is nie.”

’n Wes-Kaapse tronkbewaarder met 16 jaar diens wat naamloos wil bly, sê nuwer tronke is beter ingerig vir gestremdes, maar daar is nie gevangenisse wat spesifiek geoormerk is vir gestremdes nie.

Jacques beaam dit: “Oortreders word saam opgesluit op grond van hul misdaad, maar verder is daar nie ’n onderskeid nie. Ingevolge die wet moet alle regeringsgeriewe die nodige strukture hê om gestremdes tegemoet te kom.”

Daar is nie statistieke beskikbaar oor die persentasie gestremdes in Suid-Afrikaanse tronke nie, maar Willie sê die gemeenskap binne die tronk is ’n spieëlbeeld van die samelewing buite.

“Kyk hoe dit rondom jou lyk. Hoeveel gestremdes sien jy om jou? Dit is hoe dit ook in die tronk lyk.”

Sal Oscar in ’n enkelsel kan bly?

Net sowat 1 persent van gevangenes bly in enkelselle, sê Willie. ’n Mens kan dus aflei dis hoogs waarskynlik dat Oscar ’n sel met ander sal deel as hy wel tronk toe sou gaan.

“Sekere gevangenisse het baie enkelselle en ander bitter min. Enkelselle wat nie vir segregasie of afsondering gebruik word nie, word meestel gedeel weens oorvol tronke.”

Segregasie of afsondering gebeur wanneer ’n gevangene se gemoedstoestand so is dat dit beter is vir sy gesondheid, ná afloop van ’n dissiplinêre verhoor of ter wille van veiligheid.

Dis nooit langer as 30 dae nie, en die tronkhoof besluit daaroor. Gevangenes slaap tipies op slaapbanke waar drie beddens bo-op mekaar gestapel is.

“Daar is geen akkurate statistiek wat dit bevestig nie, maar in Suid-Afrika sit ons met tronkgeriewe vir 120 000 mense, maar ons hou sowat 160 000 aan,” sê Jacques.

“Weens oorvol tronke kan enkelselle twee tot drie oortreders huisves, terwyl tussen 10 en 60 gevangenes in ’n gemeenskaplike sel bly.”

Sal hy voedsame etes kry en kan oefen?

Met die vrylating van Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, uit die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria (kort voor hy en Frikkie du Preez weer toegesluit is nadat hul tronk-kaperjolle aan die lig gekom het) het die wêreld gegons oor die spiere wat die 28-jarige in die tronk gebou het.

Is tronkkos dan so voedsaam? het mense gewonder. En sal Oscar, ’n aktiewe sportman, sy fikse, lenige lyf kan behou as hy opgesluit sou word?

Nick Bester, ’n voormalige Comrades-kampioen, het nadat hy Christoff by ’n liggaamsbouwedstryd in die tronk ontmoet het, vertel hoe die jong man soms met van die ander gevangenes moes onderhandel om ekstra kos by hulle te koop. Die gevangenes kry elke dag pap en kool, het Nick aan die dagblad Beeld gesê.

Maar volgens Manelisi Wolela, woordvoerder van die DKD, kry “alle gevangenes in korrektiewe sentrums daagliks ’n gebalanseerde dieet wat nasionaal deur die DKD goedgekeur is.

“Dié dieet bestaan uit bees-, hoender- en varkvleis, vis, eiers en verskeie soorte groente en vrugte. Dit word saam met stysel, brood met botter, konfyt of grondboontjiebotter, voorgesit.”

'Gimnasiums ’n voorreg en nie ’n reg nie.'

Hoewel baie tronke gimnasiums het, “is dit ’n voorreg en nie ’n reg nie” om daar te oefen, sê Willie. Gevangenes kan tipies sowat ’n uur per dag oefen.

Manelisi sê hoe gereeld gevangenes kan oefen, hang af van tronk tot tronk. Party het atletiekbane, en daar is ook geleenthede waar gevangenes in ’n atletiekbyeenkoms teen mekaar kan deelneem.

“Die DKD bied jaarliks ’n nasionale atletiekbyeenkoms aan in Rustenburg, waar sowat 540 atlete uit tronke van oor Suid-Afrika teen mekaar meeding,” sê hy. Kan ’n mens kies waar jy tronk toe gaan? Nee, jy kan nie, sê Marius Coertze, die regsverteenwoordiger van Clive Derby-Lewis, wat Chris Hani vermoor het en sy tronkstraf in die Kgosi Mampuru-tronk uitdien.

'Jy verloor as’t ware seggenskap oor jou lewe.'

“Gevangenes is aan die genade van die DKD oorgelaat. Jy verloor as’t ware seggenskap oor jou lewe.”

Tog, sê Julian Knight, ’n prokureur van Pretoria, die DKD neem oortreders se ondersteuningsbasis en familie in ag wanneer hulle geplaas word, maar die belangrikste oorweging is waar daar plek is.

“Jy kan vra om na ’n ander tronk geskuif te word omdat sekere tronke beter geriewe vir jou bepaalde opleidingsbehoeftes en belangstellings het, maar dit is ook die DKD se besluit.”

So verloop ’n dag in die tronk

As tronkstraf op Oscar wag, sal sy glansryke leefstyl (die vinnige motors, vuurwapens en modelmeisies waaroor in die Noord-Gautengse hooggeregshof getuig is) moet plek maak vir aandete nog voor die son gesak het en ’n streng roetine waar die seldeure meestal al om 16:00 toeklap.

Oortreders eet hul laaste maaltyd omstreeks 15:00, maar die roetine verskil van tronk tot tronk, sê Willie.

“In party korrektiewe sentrums is daar net twee etenstye: om 07:00 en 15:00. In ander is ontbyt om 07:00, middagete 11:00 en aand-ete 15:00.

“Dis sodat die gevangenes kan eet voor die korrektiewe personeel se dagskof verby is en toegesluit kan word voor die nagskof aan diens kom.”

- Almari Wessels