Koop vir hulle koki’s, het iemand gesê. Hulle sal mal wees daaroor. En toe ontdek hulle koki’s kan oral lekker skryf – nie net op die papier wat jy so mooi vir hulle uitgepak het nie, maar ook op hul bene, arms, maag en natuurlik hul gesig. So maak jy met hardnekkige kokimerke, om nie eers te praat van die hele huis se mure, meubels en vloere nie.

Gretha se groen “grimering”

Gretha1

En nou sit jy met ’n kind vol strepe wat moet skool toe. Hoe nou gemaak? Ons het ’n kenner en ’n paar ma’s vir hul raad gevra. Bêre maar hierdie artikel, jy gaan dit dalk nog nodig kry!

Klein Gretha Taljaard (5) se ma, Nelia, van Kaapstad, sê sy was byna raadop nadat Gretha met ’n dik groen koki “grimering” aangesmeer het: “Die meeste koki het afgekom met vitamien E-reinigingsroom van The Body Shop, maar sy het nog twee dae met ’n groen skynsel om haar oë skool toe gegaan. Sy het dit die dikste om haar oë gesmeer. Die tweede aand het ek ’n laag Vaseline om haar oë gesmeer en dit met watte afgevee. Dit was toe ’n bietjie ligter. Ooggrimeringverwyderaar het nie gehelp nie.”

Sy sê mense het ook olyfolie en aptekersparaffien aanbeveel, maar toe dit kom by die tafeldoek skoonkry, was dit net Ouma Hanna se boerseep wat gewerk het (’n seep wat aanlyn gekoop kan word, maar ook by verskeie padstalle aangehou word).

Werk sag met sagte velletjies

Ma’s bespiegel oor naelpolitoerverwyderaar en Handy Andy, en Magali Vrede van Kaapstad sê Dettol-jel werk vir haar. Sonika Coetzee van Pretoria glo in haarsproei nadat haar tweejarige seuntjie Tristan homself en haar badkamer beetgekry het: “Ek het dit opgespuit en dit met ’n nat lap afgevee; dit het soos ’n bom gewerk.”

Tristan 2

Maar ander ma’s, soos Avina Cloete van Kaapstad, verkies ’n sagter aanslag, soos akwaroom wat met ’n nat lappie afgevee word.

Wat sê die kenners?

Fouzia Leong-Yu, ’n aptekersassistent by die M-Kem-apteek in Kaapstad, sê die beste raad om koki-merke af te kry sonder om jou kind se vel te beskadig, is alkohol. “Jy kan by enige apteek ’n 70%- of 90%-alkoholoplossing kry. Vra vir die 70%-oplossing; dit is nie so sterk nie, en gebruik dan ’n stukkie watte om dit af te vee.” Sy voeg by dat die vel eintlik genoeg olie het om byna enigiets vanself te verwyder. “Die vel kan dit self afhaal, ja, maar jy gaan lank wag. Die vel het net soveel olie.”

- Dalena Theron