Arnold, wat van 2003 tot 2011 goewerneur van Kalifornië was, is opgewonde oor sy nuwe pos.

“Ek was nog altyd ’n yslike aanhanger van Celebrity Apprentice en hoe dit die uitdagings en seges van die sakewêreld en spanwerk uitbeeld,” het hy in ’n verklaring gesê. “Ek kan nie wag om my ondervinding na die raadsaal te bring en miljoene vir liefdadigheid in te samel nie. Kom ons begin!”

Tog sal aanhangers nog ’n rukkie moet wag voor hulle die aksieheld op die kassie sien, aangesien Arnold eers sy buiging in die 2016-’17-seisoen gaan maak. Sy voorganger het hom wel gou-gou voorspoed toegewens met die oorname van sy rol.

“Geluk aan my vriend @Schwarzenegger wat die komende seisoen se Celebrity Apprentice gaan behartig. Hy gaan wonderlik wees en hy gaan sakke dollars inbring vir liefdadigheid,” het Donald getwiet en bygevoeg: “Aan al my bewonderaars, jammer ek kon nie langer die Apprentice aanbied nie, maar (die presidensiële veldtog) verhinder my om dit te doen. Liefde!”

Arnold het ook sosiale media gebruik om te verduidelik hoe hy “oorweldig” is deur al die steun wat hy by sy bewonderaars ontvang het sedert die aankondiging. Benewens sy eie verklaring, het Paul Telegdy, hoof van die alternatiewe en laataand-programmering by NBC Entertainment, vertel hoekom die ster van Kindergarten Cop nommerpas vir die werk was.

“Arnold Schwarzenegger (se) prestasies in die politieke arena spreek vanself,” het hy gesê. “Arnold se passie vir die struktuur wat Mark Burnett en Donald Trump die afgelope dekade opgebou het, sowel as sy vars begrip van hoe om dit na nuwe hoogtes te voer vir hedendaagse gehore, het tot sy aanstelling gelei. Die Celebrity Apprentice . . . sal terugkeer!”

© Cover Media