Sowat 11 000 atlete het die afgelope naweek in Sandton deelgeneem aan die Arnold Classic, ’n internasionale liggaamsbou-en-fiksheidsbyeenkoms.

Die eienaar daarvan – die liggaamsboukampioen, filmster en oudgoewerneur van Kalifornië, Arnold Schwarzenegger – belowe hy sal voortaan elke jaar dié byeenkoms hierheen bring.

Mediamense, fotograwe en hooggeplaastes in die fiksheidswêreld pak die konferensiesentrum van ’n Sandtonse hotel vol om na Arnold te luister.

Heel voor pryk sy gesig op ’n reuseplakkaat wat vanaf die dak tot op die vloer hang. Op die foto is sy lippe styf saamgepers en sy ligte blou oë skrefies getrek.

Net regs van die plakkaat, langs die deur, staan twee Amerikaners. Hulle dra swart T-hemde met die woorde “Deputy Sherrif” daarop gedruk. Kietsregop, met hul arms op hul bors gevou, gluur hul oë oor die ongeveer 80 mense voor hulle.

’n Mens kan amper nie glo dat die meermalige liggaamsbou-wêreldkampioen en akteur wat in aksieflieks soos Terminator en Red Heat so te sê manalleen die skurke afmaai, hier in Sandton self lyfwagte kort nie.

Skielik is daar ’n beroering by die ingang toe die spierpaleis saam met plaaslike grootkoppe soos Gideon Sam (Saskok-president) en Ivor Hoff (hoofdirekteur van die Gautengse departement van sport en ontspanning) binnestap en hul sitplek op die verhogie inneem.

Die fotograwe storm vorentoe en die kameras kliek en flits sonder op hou. Arnie groet die mense met ’n kopknik.

Hy sal voortaan elke jaar sy Arnold Classic-fiksheidsbyeenkoms Suid-Afrika toe bring, belowe die 68-jarige. Sy beroemde loopbaan is immers nou verweef met Suid-Afrika.

Hier in haar huis in Sandton vertel Jeunesse Park sy was ’n 14-jarige dogtertjie toe Arnold in 1967 by hulle in Johannesburg kom bly het sodat haar pa, die ikoniese liggaamsbouer en rolprentster Reg Park, hom kon afrig.

[caption id="attachment_127462" align="aligncenter" width="600"]Foto: Rowyn Lombard. Foto: Rowyn Lombard.[/caption]

Hieruit het ’n hegte en lewenslange vriendskap ontwikkel.

Destyds het Reg reeds ’n hele paar Mnr. Heelal-titels agter sy naam gehad en op die silwerdoek het hy die naamrol vertolk in vyf Italiaanse Hercules-flieks.

’n Jong en onbekende Arnold Schwarzenegger het destyds Reg se loopbaan gevolg en gedink: Dit is presies wat hy ook eendag wil doen.

Hy het ’n telegram na Reg gestuur en hom gevra of hy hom sal afrig. Reg het ingestem, vir hom ’n vliegtuigkaartjie gekoop en die vriendskap is gevestig.

Selfs al het Arnold drie jaar later vir Reg in Londen geklop in die Mnr. Heelal-kompetisie van 1970, was Reg regdeur Arnold se loopbaan sy mentor.

In die voorportaal van Jeunesse se huis hang ’n skildery van Reg en Arnold saam as jong manne.

[caption id="attachment_127461" align="aligncenter" width="600"]Foto: Rowyn Lombard. Foto: Rowyn Lombard.[/caption]

Op ’n ander foto speel haar broer, Jon Jon, saam met Arnold krieket in hul tuin. Arnold vertel hy onthou nog goed hoe hy in 1975 die Mnr. Olympia-titel in Pretoria gewen het.

[caption id="attachment_127465" align="aligncenter" width="600"]Foto verskaf. Foto verskaf.[/caption]

“Pretoria is nog altyd vir my een van die mooiste stede ter wêreld,” vertel Arnold. Op die vierde vinger van sy regterhand pryk ’n groot, silwerkleurige ring.

Hy is self nog verbaas oor die sukses wat hy bereik het, vertel die man wat meer as 20 groot liggaamsboutitels agter sy naam het.

“Soms is ek bang dat iemand my kom wakker maak en sê: ‘Haai, dit was alles net ’n droom; gaan werk in ’n fabriek.”

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Mense vorm ‘trampolien’ om gesin uit brandende woonstelblok te red

Wêreld se eerste 3D-gedrukte motorfiets lig soos ’n veer

Twee van ons land se mooistes byeen in Monaco!

Gert van Rooyen: ‘Slagoffer’ verbreek stilte ná 39 jaar

‘Ek is so dankbaar’: Vrou wat 18 jaar gelede uit brandende gebou gered is, herenig met haar redder