Hy het gevra sy aanhangers moet bid vir sy broer en die ander motorbestuurder, wat ook in ’n kritieke toestand is.

“Hi julle. My broer Dewald was in ’n groot ongeluk,” het die sanger op sy Facebook-blad aan sy byna 30 000 aanhangers geskryf. “Hy en die dame is kritiek! Bid asb. vir hulle!!! Baie dankie aan ER24 EMS (Pty) Ltd. se diens op die toneel. Baie professioneel en vinnig en goed! Baie dankie.”

Die inskrywing is gemaak saam met ’’n foto van twee uitgebrande motorwrakke. Arno het omstreeks 10:00 ’n twiet van ER24EMS hertwiet waarin diá nooddiens op sy blog oor die ongeluk geskryf het.

Volgens die inskrywing het twee motors vanoggend vroeg trompop op die De Villabois-Mareuilweg, tussen Atterbury en Garsfontein, in Pretoria gebots. Die voertuie het kort uitgebrand. Omstanders was vinnig op die toneel en het die twee bestuurders uit albei die motorwrakke gered kort voor dit aan die brand geslaan het.

'n 20-jarige vrou is erg beseer en was in baie pyn, volgens die MyER24 Blog. “Paramedici het haar vinnig kalmeer en haar op lewensondersteunende masjiene geplaas.”

“Die vrou is met ’n mediese helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg gevlieg waar sy nood mediese behandeling ontvang het.”

“Die jong man wat die tweede voertuig bestuur het, was ook in ’n kritieke toestand en het verskeie gebreekte bene opgedoen weens die impak van die ongeluk.” Hy is op die toneel behandel en na die Pretoria-Oos-hospitaal gebring.

Arno was nie beskikbaar vir kommentaar toe Huisgenoot hom kort ná die inskrywings bel nie. Hy het ook nie op ’n SMS reageer nie.