TOE Arno Jordaan die meisie van sy drome ná ’n verhouding van sewe jaar vra om sy vrou te word het hy ’n klein bietjie hulp nodig gehad –van ’n dolfyn met ’n hoepel om die nek.

Pleks van tradisioneel te kniel en haar die ja-woord te vra het die blonde sanger Lizanie Pohl met ’n verloofring verras net nadat sy by ’n waterpark in Doebai ’n speletjie met die dolfyn gespeel en ’n hoepel van sy nek afgehaal het. Toe sy omdraai, staan hy daar agter haar met die ring in sy hand.

“Ek was heeltemal uit die veld geslaan. Ek het nooit gedink Arno kan so romanties wees nie,” vertel sy oorstelp.

Lizanie (24) is saam met hom Doebai toe waar hy gaan optree het, min wetende dat Arno (27) toe al drie maande lank met die knoets van ’n verloofring in sy sak rondloop en planne beraam vir ’n verlowing so reg uit ’n storieboek.

Eintlik wou hy in Desember al die groot vraag gevra het, maar haar ma, Ina, het kort voor Kersfees ’n ernstige hartaanval gehad en later ook ’n paar kleiner beroertes.

Toe die familiekrisis verby is, moes hulle na Doebai en Londen vertrek vir Arno se optredes daar saam met Steve Hofmeyr.Teen daardie tyd het Arno al sy aanstaande skoonouers om Lizanie se hand gevra. “Sjoe, ek was bitter senuagtig! Dit lyk nie so nie, maar ek is ’n skaam outjie en ek glo nog aan sulke tradisies,” vertel hy.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 10 Maart 2011