Arno is drie jaar gelede in hegtenis geneem nadat hy na bewering onder die invloed van alkohol bestuur het.

Hy het onskuldig gepleit op ’n aanklag van dronkbestuur, alternatiewelik ’n aanklag van bestuur met ? bloedalkoholvlak van 0,2 persent. Die wetlike beperking is 0,05 persent.

Voor die verhoor in Februarie uitgestel is, het Arno se prokureur, Milton de la Harpe, die metode gekritiseer wat die laboratorium gebruik het om Arno se bloedmonster te toets.

Milton het aan die staatsgetuie Tim Lourens, die hoof van die departement van forensiese toksikologie aan die Universiteit van Pretoria, gesê bloedmonsters kan nie geloofwaardig wees nie weens mikro-organismes soos bakterieë, virusse en fungi.

Hy het gesê glukosevlakke kan ook tot ? foutiewe lesing lei omdat glukosevlakke gewoonlik as gevolg van skok of stres verhoog word.

Tim het geantwoord: “As ’n mens etanolfermentasie kan inhibeer, kan ander faktore beheer word en betroubaar wees.”

Wanneer ’n bloedmonster van ’n beskuldigde geneem en in ’n steriele buis geplaas word, word dit gemeng met natriumfluoriedpoeier om die ontstaan van sulke mikro-organismes te voorkom.

- Sapa