[caption id="attachment_165423" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die ster en die politikus het die laaste paar maande aanlyn beledigings uitgeruil nadat die Terminator-akteur as aanbieder oorgeneem het in die 15de seisoen van Donald se sake-werklikheidsreeks, The Celebrity Apprentice, wat in Januarie uitgesaai is.

Die nuwe reeks, waarin die biljoenêr-eiendomsontwikkelaar nog as uitvoerende vervaardiger aangedui word, het nie groot aftrek gekry nie en Arnold het vroeër vandeesmaand aangekondig hy gaan die reeks ná net een seisoen los weens Donald se knaende inmengery.

En nou het Arnold ’n hou na Donald gemik nadat die jongste peiling van die navorsingsmaatskappy Gallup aangedui het dat die president se goedkeuringsyfer ’n nuwe laagtepunt van net 37 persent bereik het.

“Donald, die syfer is in en dis klaarpraat met jou,” sê Arnold in ’n video wat Dinsdag op Twitter gedeel is. “Sjoe, jy trek nou in die 30’s.”

Die Hollywood-aksiester en voormalige goewerneur van Kalifornië het Donald se swak syfer blameer op sy nuwe begrotingsplanne wat sny aan welsynsprogramme waarop die behoeftigstes in Amerika staatmaak.

“Wat verwag jy? As jy naskoolse programme vir kinders en kos vir armes wegneem, is dit nie juis ’n manier om Amerika weer groot te maak nie (’n verwysing na Donald se verkiesingslagspreuk).

Arnold het toe aangebied om Donald na ’n plaaslike skool in Washington, DC, te neem om self te sien hoe federale befondsing in die gemeenskap aangewend word.

“Kom ek gee vir jou raad: Gaan na ’n skool – sommer die Hart Middle School daar naby die Withuis in Washington. Ek sal jou neem sodat jy kan sien watter goeie werk hulle vir hierdie kinders doen. Sal ons so maak?”

Donald, wat gewoonlik vinnig na kritici op Twitter kap, het nog nie op Arnold se aanbod gereageer nie.

© Cover Media