Verbeel jou: Jy vee die sweet van jou voorkop af met jou gim-handdoekie en skraap moed bymekaar vir die volgende stel opstote. Wanneer jy opkyk, sien jy Arnold Schwarzenegger staan en hou jou dop.

Dis presies wat onlangs in Gold’s Gym gebeur het. Arnie het teruggekeer na dié Kaliforniese gimnasium waar hy in die 1970’s geoefen het om geld in te samel vir ’n goeie doel.

Die 66-jarige oudliggaamsbouer het homself as Howard, ’n fiksheidsinstrikteur in ’n swart pruik, vals snor en bofbalpet vermom voor hy deur die gim geloop het en ‘poetse’ op van die lede gebak het.

Ongelukkig is Arnie se aksent onmiskenbaar en wanneer hy ’n vrou op ’n trapmeul groet en vra: “Hoeveel kilo’s hardloop jy?” kan die vrou nie help om hom verstom te groet nie.

“Ek wou net ’n bietjie pret hê en geld insamel vir ’n goeie doel,” sê Arnie oor dié poetsbakkery.

Die All Stars After School-program wil met dié video geld insamel vir ’n aktiwiteitsprogram in lae-inkomstegemeenskappe.

Kyk die video hier:

Bronne: E! Online, YouTube