Van al die ontstellende beelde wat in die afgelope tyd vanuit Egipte die wêreld in is, was dit een van die skokkendstes – ’n ongewapende betoger word koelbloedig dood-geskiet . . .

Mohamed Atef koes toe die polisie op oproerige protesteerders in Noord-Sinai losbrand. Hy probeer oënskynlik vlug, maar syg dan in sy spore neer. Sy vriende snel hom te hulp, maar dis te laat; dit was ’n kop-skoot . . .

En Mohamed word die soveelste slagoffer van die polisie wat pres. Hosni Moebarak al 30 jaar aan die bewind help hou.

Ná ’n week van oproer in Egipte was die amptelike dodesyfer meer as 100, maar die hoop op ’n beter Egipte het bly toeneem.

En op Kaïro se Tahrir-plein het die kreet verhewig: “Moebarak, jou vliegtuig wag!”

Intussen kyk die internasionale gemeenskap onrustig toe: Watter onrus gis hier in die Arabiese wêreld, en hoe raak dit die res van ons?

Eerste vonk: Die groentesmous

Dit het alles begin by ’n nederige groentesmous van Tunisië, waar die diktatoriale bewind drie weke gelede tot ’n val gekom het.

Die oproer wat die naburige Tunisië se pres. Zine al-Abidine Ben Ali landuit laat vlug het, het opgevlam nadat die 26-jarige Mohamed Bouaziz homself in Desember uit protes aan die brand gesteek het.

Swaarkry en ’n afknouery deur die polisie het hom laat knak, veral toe hulle sy groentekar konfiskeer. Hy’s vroeg in Januarie aan sy brandwonde dood – ’n martelaar vir skares werkloses en studente wat teen swak lewensomstandighede begin betoog het.

Dat die golf van protes daar tot ’n outokraat se val kon lei, het baie Arabiere elders verstom – en toe ook geïnspireer . . .

Moenie die volledige artikel in Huisgenoot, 10 Februarie 2011 misloop nie.